Matteus 3:16-17: "Toe Jesus na sy doop uit die water uitkom, het die hemel skielik oopgegaan. Johannes het gesien hoe die Gees van God soos 'n duif uit die hemel afkom en op Hom neerdaal. Toe praat 'n stem uit die hemel."
Johannes die Doper is ooggetuie van hierdie gebeure, nadat hy Jesus gedoop het. Hy het dit makliker gemaak vir ander mense om Jesus raak te sien en in Hom te glo.
Die profeet Jesaja het al oor hom gesê dat hy die hindernisse uit die Here se pad sal neem met die Here se koms, en sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is.

Geleerdes worstel deur die eeue oor hoekom Jesus gedoop is.
En dit is veral omdat Johannes die Doper se doop 'n bekeringsdoop was.
Die meeste wil sê dat dit Jesus se visuele demonstrasie was dat Hy regtig met ons is...met ons vrese, en dwaasheid, en mislukkings, en worsteling met die sonde, en dat Hy ons regtig kan help en red, omdat Hyself sonder sonde was.

En net soos met Jesus woon die Heilige Gees ook in ons, ons wat kinders van God geword het.
God sê ook vir ons dat ons sy geliefdes is, en dat Hy 'n behae in ons het.
Die doop sê vir ons wie God is en wie ons is.
Soos Martin Luther kan ons elke dag, bewustelik, uit die betekenis van ons doop lewe.
Ons kan ook, soos hy, elke oggend aan ons voorkop raak en sê:
Onthou! Jy is gedoop! Leef uit die realiteit daarvan. Jy behoort aan God!

'n Ou Kerkgebed het so gelui: "Kom, o Heilige Gees, kom!
Kom as heilige vuur en brand in ons. Kom as heilige wind en waai deur ons, waai ons skoon. Kom as heilige lig en lei ons.
Kom as heilige krag en inspireer ons.
Kom as oorvloed lewe en oorstroom ons.
Verander ons totdat ons heeltemal word soos God wil."

Ernest