Matteus 4:1-2 vertel: "Kort na sy doop het die Heilige Gees Jesus na die woestyn toe laat gaan. Daar moes Hy deur die duiwel op die proef gestel word. Veertig dae lank het Jesus niks geëet nie.
Hy het toe honger geword. Dit was natuurlik net die geleentheid waarop die duiwel gewag het." Dit is betekenisvolle woorde:
"Dit was natuurlik net die geleentheid waarop die duiwel gewag het."
Die duiwel kies die swakste skakel in jou mondering om jou te versoek of te mislei, en jou op die proef te stel.
Jesus roep nie die engele in om te help nie, al verwys die duiwel daarna.
Jesus wys juis vir ons hoe ons die duiwel moet weerstaan.
Jesus gebruik die Woord van God!
Ons weet Paulus het ook in Ef. 6:17 gesê dat die Woord van God die "swaard van die Gees" is waarmee ons moet veg!
En die duiwel blaas die aftog! Nadat hy self die Woord van God misbruik, misbruik om Jesus te versoek.
Die duiwel sal elke dag probeer om jou te versoek. Wees verseker daarvan.
Jakobus 4:7 gee 'n baie belangrike waarheid om te onthou, en mee te leef:
"Onderwerp julle dan aan God.
Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug."
Ons moenie die duiwel se mag verkeerd verstaan nie.
Ons moet versigtig wees vir die duiwel, maar ons hoef nie, en moet nie, vir hom bang wees nie. Ons leef onder beheer van die almagtige God!
Daar is 'n Nigeriese gebed wat lui:
"Vader, U het gesorg dat my lewe soos 'n boom groei.
Maar nou het Satan soos 'n voël die een takkie na die ander na die boom gedra.
Voor ek geweet het wat my getref het, het hy vir hom 'n woonplek by my gemaak.
Vanaand gooi ek met U hulp en genade die voël en die nes uit! Amen!"
Dit is 'n mooi beeld uit Afrika wat vir ons wys hoe slu en slinks die Satan in ons lewens werk.
Versoekings lyk soms klein. Selfs onskuldig. Net die een keer.
En voor jy weet is dit gewoonte. Net 'n klein enetjie.
En voor jy weet neem dit jou lewe oor...
Staan dit teen...met die Woord van God!
Ernest