Matteus 4:18-20: "Jesus sê vir hulle:
"Laat staan julle nette. Kom agter My aan! Word my volgelinge."
Dadelik het Simon en Andreas hulle visnette neergesit en agter Jesus begin aanstap."

Die belangrikste vraag van die lewe is:
Wat gaan jy doen met jou een en enigste lewe?
Dit is eintlik die vraag, en die opdrag, agter Jesus se woorde.
"Kom agter My aan! Word my volgelinge."
Dit is asof Jesus vir hierdie twee manne sê dat hulle die res van hul lewe net vissermanne kan wees, of hulle kan Hom volg vir iets wat lewensveranderend gaan wees!
Wat is jy op die oomblik besig om met jou een en enigste lewe te doen?

Jy is ontwerp en geskep om God te dien. Om vir Hom te leef.
Indien jy enige iets anders doen beantwoord jy nie aan jou skeppingsdoel nie.
Een van die beste goed wat jy oor jou lewe kan sê, is dat jy aan die Here behoort.
In hierdie nuwe jaar wat nou voorlê is ons nie kerk om in die nuus te wees nie, maar om in die Naam van die Here 'n verskil in die wêreld te maak, tot eer van God en die uitdra van sy koninkryk.

Dit gaan ons daar moet doen waar ons as volgelinge van die Here lewe.
Net mooi daar gaan ons met integiteit moet lewe.
Integriteit is om kontekstueel relefant te wees in die Naam van die Here, en ter wille van die wil van God.
In jou klein kringetjie, daar waar jy uniek leef en God verteenwoordig, daar is jy suurdeeg, sout en lig vir die Here, in letterlik alles!
Dit is wat dit beteken om 'n volgeling van Jesus te wees!

Ernest