Geseënd kan ons die nuwe jaar ingaan,
as kinders van God,
met die boodskap van Jesus in die Bergrede.
Geseënd is...gelukkig is jy in 2018,
as jy hierdie woorde van Jesus ter harte neem:
Matteus 5:3: "Gelukkig is die mense wat weet hoe nodig hulle God het, want hulle het deel aan sy koninkryk."
Mense wat van God afhanklik is, vertrou Hom.
Dit beteken om elke dag die gebed te leef:
"Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het."
Psalm 121:1-2.
Dit is afhanklikheid! Dit is wysheid! Dit is die waarheid!
Verder: "Gelukkig is die treurendes,
want God sal self hulle trane afvee." - vers 4.
Treur ons oor dit waaroor Jesus treur in hierdie wêreld?
Jesus het die totale prys betaal om hierdie wêreld vry te maak.
Oor hierdie "treurendes", of hulle wat hartseer is, het Teresa van Avila gesê:
"The important thing is not to think much, but to love much."
Die einde van ons lewe breek aan die dag wanneer ons stil word oor die dinge wat saak maak in die lewe.
Moenie stil word oor dit wat saak maak vir God en sy koninkryk nie.
Die aarde het geen droefheid wat die hemel nie kan genees nie.
Moenie stil raak hieroor nie.
Deel dit met die treurendes, en onthou dit as jy treur.
Jy sal geseënd en gelukkig daarin wees, en tot seën vir ander.
Ernest