"Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal vir God sien." - Mat. 5:8.
'n Ander vertaling sê: "Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: "Julle is my kinders."
Jesus was en is steeds die vredemaker van alle vredemakers.
Ons moet nie net oor vrede praat in hierdie nuwe jaar nie, maar doelbewus vrede maak.
Dit help ook nie om net in vrede te glo nie.
Jy moet daaraan werk. Vrede is 'n werkwoord.
Moeder Teresa het gesê: "As ons geen vrede het nie, is dit omdat ons vergeet het ons behoort aan mekaar.
Vrede en oorlog begin in die huis.
As ons waarlik vrede wil hê,
laat ons begin om die naastes aan ons
onvoorwaardelik lief te hê."
Dit is nie altyd maklik om 'n vredemaker te wees nie.
'n Vredemaker doen steeds wat God vra,
en kan daarom belediging en vervolging in die oog staar.
Maar ook daarin kan jy geseënd wees.
Matteus 5:10 lees in een van die vertalings so:
"Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra.
Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld."
"The Mission" is 'n treffend en ontstellende fliek, oor die vervolging van Jesus volgelinge.
Sendelinge het in Suid Amerika 'n klomp Indiane na die Here gelei.
'n Jesus gemeenskap het ontstaan.
Die Spaanse regering wil van hulle ontslae raak, en die mense steeds as slawe aanhou. 'n Erge bloedbad volg.
In die slottoneel het die soldate onttrek.
Die plek is uitgewis en die gehoor in die fliek is stomgeslaan.
Net vier jong kinders roei rivier op om die droom van die Jesus-gemeenskap verder te gaan deel en te gaan vestig.
Dan verskyn die volgende woorde van Johannes 1:5 op die skerm in die donker teater:
"The light shines in the darkness,
and the darkness did not overcome it."
Ernest