"Julle is die sout wat die aarde 'n beter plek moet maak.
Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word." - Matteus 5:13.

Sout is 'n geurmiddel. Dit gee smaak. Kos met te min sout proe laf.
Ons moet die wêreld rondom ons geur, en smaak daaraan gee.
Volgelinge van Jesus doen dit met hulle optrede van vreugde, vrede, liefde, genade. Kortom, deur die vrug van die Gees te dra.
Sout werk ook bederf tee. Daarom sout ons vleis, en maak biltong, met smaak en 'n langer raklewe.
Ons moet ook die bederf wat die sonde in die wêreld bring teewerk.
Sout is ook in die Bybel se tyd op lande gestrooi om die groeipotensiaal van die grond te verhoog.
Ons moet groei en ander help om geestelik te groei.

Siprianus skryf in die tweede eeu na Christus vir sy vriend Donatus:
"Ek het te midde van die bose wêreld 'n stil en heilige volk ontdek.
Hulle het 'n vreugde ontdek wat 'n duisend keer beter is as enige plesier in hierdie sondige lewe. Hulle word verag en vervolg, maar hulle gee nie om nie. Hulle het die wêreld oorwin.
Hierdie mense, Donatus, is Christene...en ek is een van hulle."

Ernest