"Julle is die lig wat die wêreld moet verlig.
'n Stad wat bo-op 'n berg lê kan mos nie weggesteek word nie." Matteus 5:14.
Vers 16: "Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle 'n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys."
'n Kontemporêre Engelse vertaling stel dit so mooi:
"You're here to be light, bringing out the God-colours in the world.
God is not a secret to be kept. We're going public with this!"
Ons moet ons lewe so leef in diens van die Here deur vir mense om te gee, deur hulle laste te dra, en so die lig van God se liefde deur ons laat skyn.
Mense van God stap deur 'n donker wêreld en dra in hulleself die Lig wat lig gee.
Tydens die Franse Rewolusie was 'n groep Christen gevangenes saam in een sel opgesluit.
Dit was 'n ondergrondse kerker waarin daar net vir 'n paar minute, en net op sonskyndae 'n strepie lig deur 'n dakvenster ingeskyn het.
Dan het die gevangenis die enigste een onder hulle wat 'n Bybel besit het opgetel,
sodat hy so na as moontlik aan die lig kon kom om 'n paar verse te lees en te memoriseer.
Wanneer hulle hom weer op die grond laat sak het, het hulle elke keer dringend vir hom gevra:
"Liewe vriend, vertel tog vir ons wat jy gelees het, terwyl jy in die Lig was."
Hierdie Lig is met 'n hoofletter geskryf omdat hulle gesê het hy was nou in die lig by die Lig!
Ons is die lig vir die wêreld,
maar niemand anders as God kan dit aanskakel nie.
Ernest