Baie mense se verhouding met die Here is vir hulle dat jy nie dit mag doen nie en nie dat mag doen nie...
Wette oor omtrent alles. Maar, as jy enige Christelike lewenshouding as 'n wet verstaan, verstaan jy dit verkeerd.
Ons Christelike geloof bestaan nie uit moets en moenies nie.
Reëls laat jou Christus uit die oog verloor.
Jy moet nie soos 'n stel reëls lyk nie, maar soos Christus!
Dit is God se lewe wat Hy vir jou bedoel.
Wanneer ons wil weet wat ons in bepaalde omstandighede te doen staan, hoef ons ons net af te vra watter voorbeeld Jesus vir ons nagelaat het. Volg in sy voetspore daarin.
Dan vind ons uit dit is dikwels baie moeiliker as om net 'n reel na te kom. Dan stap jy 'n tweede myl, draai jou ander wang, gee meer as 'n tiende...

In Lukas 14:27 sê Jesus: "En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie."
Dit is 'n baie moeiliker ding wat die Here van ons hier vra, as om net godsdienstige reëls na te kom.
Wanneer ons Jesus begin volg tel ons 'n kruis op.
Mense verstaan die "kruis" soms verkeerd en dink dit is 'n siekte of een of ander "doring in die vlees".
Soos "elke huis het sy kruis".
Maar dit is gladnie die betekenis nie.

'n Kruis het in Jesus se konteks net een betekenis, en dit is dat 'n mens daaraan hang.
Wanneer jy Jesus volg kom jy onvermydelik by Golgota uit.
Daar word jy met al jou eiebelange ook vasgespyker.
En dan kom jy ook saam met Jesus by die opstanding uit, waar jy as nuwe mens opstaan tot die nuwe lewe, ewige lewe.

Kruisdra is tree vir tree agter Jesus aan, en leef soos Hy geleef het.
Dit is nie godsdienstige reëls nie, maar ware lewe in die Here!
As 'n nuwe mens met 'n nuwe hart sal jou liefde vir God en jou medemens vir jou sê wat jy moet doen. Al kos dit jou ook wat!
Van Jesus het hulle gesê Hy is 'n vraat en wynsuiper, van sy kop af, en van die duiwel besete, alles oor Hy die wil van God gedoen het!
Maar Hy het voortgegaan om mense, selfs teen die godsdienstige reëls van die tyd in, met liefde en barmhartigheid te benader.
Dit is baie moeiliker as godsdienstige reëls waaragter ons kan wegkruip.
Dit maak dat selfs kerkmense skeef opkyk wanneer jy Jesus onvoorwaardelik volg in die wil van God!
Neem jou kruis op en volg Hom! Net dit is lewe!

Ernest