Uit menslike oogpunt was Jeremia 'n onbeduidende mensie, uit 'n klein dorpie, wat in 'n moeilike tyd lewe, en 'n byna onmoontlike taak kry.
Maar uit God se oogpunt is dit heel anders.
God ken Jeremia al van voor sy geboorte af, en God maak hom vir waarvoor God hom bedoel.
Ons moet nooit klein dink oor hoe God oor ons dink nie.
Dit gaan nie oor wat ons dink ons kan vermag nie, maar oor wat ons dink God kan vermag. Deur ons.
Jeremia was in ons taal skaars in matriek toe die Here hom na Josia en Jojakim gestuur het om met hulle te praat oor God se wil vir die volk.
Geen wonder nie dat Jeremia vir die Here sê maar hy is mos heeltemal te jonk om dit vir die Here te doen!
En hy praat ook nie goed nie.
Jeremia 1:6: "Nee, oppermagtige Here,
ek kan nie goed praat nie. Ek is ook te jonk."
God glo nie net in homself nie.
Hy glo ook in Jeremia om te gaan doen wat Hy vir hom sê.
Hy stuur Jeremia die wêreld in,
om mense op koers te gaan plaas vir God!
God stuur ook vir jou!
In vers 8 sê God vir Jeremia hy moet nie bang wees nie.
God self sal by hom wees en hom beskerm.
God kyk nie van ons kant af na ons verskonings nie, maar van sy kant af.
Vir God is niks onmoontlik nie,
en as God jou stuur, sal Hy jou toerus en by jou wees.
Jy is ook 'n profeet in eie reg, as kind van God in Christus.
In Christus is ons profete, priesters en konings.
God stuur ons uit om in hierdie wêreld as profete sy Woord te bring, as priesters te dien, en as konings saam met Hom oor die sonde te heers!
Gaan nou! En weet die Here is by jou!
Ernest