Die mense neem nie Jeremia se boodskap oor die nuttelose offers ernstig op nie.
Tog gebeur daar op die oog af ook niks met hulle nie.
Dit gaan eintlik goed met hulle, en hulle lag vir Jeremia.
Dit laat Jeremia sy saak aan God stel.
"Waarom is die goddelose mense voorspoedig...?"
Jeremia doen wat die Here vra,
maar dit lyk nie of dit resultate het nie.
Die Here straf hulle ook nie eers nie!
Die Here hou nie nou sy kant van die ooreenkoms nie!
Nou voel Jeremia soos 'n swaap...

Jeremia het gedink hy kan sy profeetwerk sommer gou afhandel.
Maar om 'n gestuurde van die Here te wees is nie 'n kitswerkie wat sommer gou hier of daar afgehandel word nie.
Ons kan seker sy ongeduld verstaan. Ons voel ook dikwels so.
Maar wat ons moet besef is dat God geduldig is.
Hy wag soms lank voor Hy sy oordeel uitvoer.
Wanneer dit vir ons lyk of God niks doen nie, moet ons weet God is besig om in mense se harte te werk, met die saad wat ons vir Hom moes gaan saai het as gestuurdes.
Ons moet nie dink die wêreld sal binne 'n week verander omdat ons God se gestuurdes is wat ons roeping uitleef nie.
Jeremia moes ook hierdie les leer.

Miskien het God geglimlag toe Jeremia Hom hieroor aanspreek, dat Hy skynbaar niks aan die situasie doen nie.
En dan sê die Here hierdie woorde aan Jeremia in Jer. 12:5:
"As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop?"
Dit beteken: Jeremia se pad saam met God het skaars begin, en Jeremia is klaar moedeloos. Hy soek sy eie verwagte resultate.
Ons moet ook as gestuurdes weet dat ons nie moet tou opgooi as ons teenstand kry nie.
Dit is asof God vir Jeremia sê;
tot dusver het jy nog net teen voetsoldate geveg, vorentoe kom die berede mag!
Dit is nie altyd maklik en gerieflik om 'n gestuurde van die Here te wees nie!
Maar jy veg in die oorwinningsmag van God, in Christus Jesus!
Jy kan God vertrou, nou teen die infanterie, maar ook later teen die berede soldate. God oorwin!
Wees deel van sy oorwinning in hierdie wêreld, sonder om moedeloos te word as gestuurde van die Here.

Ernest