Eers was Jeremia vies omdat God nie die oordeel bring wat hy verwag het nie.
Maar nou dat God 'n kwaai droogte stuur en daar nie meer kos en water vir die mense is nie, nou pleit Jeremia by God vir hulle!
Jeremia 14:8-9: "Waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net 'n nag oorbly?
Waarom sou U wees soos 'n man wat verskrik staan, soos 'n soldaat wat nie in staat is om te help nie?"
Waar Jeremia in 12:3 vantevore gevra het dat God hulle uitwis, bid hy nou vir die mense!
Iets gebeur in 'n gestuurde van die Here se hart!
Jeremia bely ook hulle sondes namens hulle voor God in 14:7!
En hy smeek God: "Moet ons nie verlaat nie!"
Met deernis gaan staan Jeremia in hulle skoene!
Om 'n gestuurde van die Here te wees,
beteken nie om eenkant te gaan staan nie.
Om 'n gestuurde van die Here te wees,
beteken om tussen die mense te wees waarna die Here jou stuur.
Om deel van hulle te wees. Om in hulle skoene te staan!
Dit is soos Jesus gesê het:
Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie.
Daarom moet ons ook nie onsself as regters oor ander mense aanstel nie!
Dit is nie wat God met sy gestuurdes se roeping bedoel nie.
Ons gaan staan ook as gestuurdes in ander se skoene omdat dit uiters dringend is.
Deur ons beleef mense God se genade en liefde as 'n werklikheid.
Deur ons besef mense dat God barmhartig is en omgee.
Ons deel God se liefde met hulle.
Maar dit is ook deur ons woorde en dade dat mense kan hoor dat God hulle roep om hulle na Hom te keer.
Ons is ook, as gestuurdes, profete van die Here.
Ons woorde en dade, onder leiding van die Heilige Gees, moet mense oproep en dring na die Here.
Ons kan nie daaroor besluit hoeveel tyd daar vir mense is nie, omdat God geduldig is nie. Ons is nóú gestuurdes! Oral waar ons leef!
Gaan staan nou met deernis in mense se skoene, en roep hulle ook nou met dringendheid op om vir die Here te lewe!
Ernest