God se geduld van 600 jaar met die volk gee nou af op Jeremia.
Dit kan ook nie anders nie. 'n Gestuurde van die Here gaan met die hart van die Here na mense. Na alle mense!
Dieselfde Jeremia wat wou sien dat God die mense straf, smeek nou by God vir hulle! Hy sê dit is tog nie die mense se eie skuld dat hulle nie die Here reg gedien het nie.
Die geestelike leiers vertel tog vir hulle hoe hulle moet lewe.
As die geestelike leiers hulle mislei, kan God tog nie die mense daarvoor straf nie - Jeremia 14 vers 13 Jeremia kry die mense jammer.

'n Gestuurde van die Here het deernis met mense.
Die geestelike leiers het vir hulle gesê solank hulle offer en tempel toe gaan, is alles reg. Alles is nie reg nie!
Dit help nie om Bybel te lees en te bid en kerk toe te gaan, maar nie die wil van die Here in jou daaglikse lewe uit te leef nie.
Jeremia het nou groot deernis met die mense, mense wat hom voorheen wou doodmaak! Volgens 11:21.
God se geduld van 600 jaar met die mense, word nou deel van Jeremia se hart.
God het so baie geduld met elkeen van ons.
Ons moet ook as gestuurdes van die Here in hierdie wêreld geduld hê met mekaar, baie geduld!

Gee jy ook so baie vir mense om dat jy vir hulle sal bid, selfs al het hulle jou kwaad aangedoen?
Het jy waarlik die geduld wat God van jou vra met die mense wat na sy beeld geskep is?
God wil hê dat jy as sy gestuurde met sy deernis in mense se skoene sal gaan staan, vir hulle bid, en baie geduld met hulle sal hê.

Ernest