Die mense het vir Jeremia gelag,
toe hy met God se boodskap na hulle gegaan het.
Sal God nou vir hom lag wanneer hy self terugkom, in Jeremia 14:13-16, om vir die mense te pleit nadat God self gesê het Hy gaan hulle straf?
Die wonderlike van God is dat Hy nie ongeduldig is met Jeremia se gebrek aan begrip nie, maar dat Hy aan Hom verduidelik hoekom Hy optree soos Hy optree.

Kyk, sê God, daar is mense wat sê hulle ken My, en dat hulle gelowig is.
Maar hulle sê vir die mense; moenie bekommerd wees nie.
God is liefde. En liefde straf mos nie.
Maar die gelowige mense sê nie dat God ook regverdig is nie, en die sonde moet straf!
God kan nie vir ewig toesien dat onreg geskied nie, al is Hy hoe lief vir die mense, en hoe geduldig!
Omdat God liefde is, en regverdig is in sy wese, sal volhardende en onbelyde sonde die mense inhaal!
Dit is goed en reg om vir mense te sê dat God hulle liefhet.
En ook dat God baie geduldig is. Want dit is waar.
Maar ons moet nie God se boodskap afwater nie.

As kind van die Here moet jy ook met oortuiging jou geloof uitleef, in die praktyk van elke dag.
Dit is juis daar waar jy 'n gestuurde van die Here is. Suurdeeg. Sout. Lig.
Wanneer jy dit nie doen nie, sal die wêreld oor jou loop, soos wat met hierdie mense gebeur het.

Die volle waarheid is dat God ons oneindig liefhet, maar dat Hy ook as regverdige God die sonde moet straf.
Daarom moes Jesus ook kom, om aan die kruis die volle oordeel van God op Hom te neem.
Aanvaar Jesus as Verlosser en Here van jou lewe.
Wanneer Hy Here van jou lewe is, leef jy vir Hom, in die praktyk van elke dag.
Jy gaan nie net kerk toe en "bring offers" nie.
Gaan ook as gestuurde van die Here,
en verkondig hierdie boodskap van die Here, aan alle mense!

Ernest