Jeremia verstaan die verduideliking van die Here, dat Hy regverdig is, en die mense se sonde moet straf.
Dat Hy al 600 jaar se geduld met hulle het.
En dat Hy hulle nogtans oneindig liefhet!
Jeremia weet nou dat daar swaar dae vir die mense voorlê, en vir hom! Hy gaan saam met hulle ly. Verseker!
Dit is sy mense, en Jerusalem is sy stad.

Maar Jeremia druk arm met God dat die mense nog 'n kans moet kry.
Nie omdat hulle goeie mense is nie, maar nou ter wille van God se Naam!
Jeremia 14:21: "Ter wille van U Naam, Here, moet ons tog nie verwerp nie.
Moenie dat die plek waar U magtige teenwoordigheid regeer, verag word nie. Dink aan U verbond met ons."
Jeremia sê eintlik: Here, as U nou U mense gaan oordeel, wat sal die ander nasies, wat nikswerd afgode dien, dan van U sê?
Almal weet U is ons God, en wat sal ons bure van U sê, as U ons nou aan ons eie lot oorlaat?
Hulle sal sê U het nie die mag om ons te red nie...

Moses het in Eksodus 32:9-14 ook so vir die volk by God gepleit.
God het toe na hom geluister. Later sou Jesus ook bid:
"Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."
Om God se gestuurde in hierdie wêreld te wees, beteken nie om mense uit die hoogte te veroordeel nie, maar om by hulle, in hulle skoene te gaan staan.
Daar is geen groter voorbeeld hiervan as Jesus Christus self nie.
Onverskillige mense onderskei nie meer die wil van God nie.
Ons moet onder leiding van die Heilige Gees, as gestuurdes van die Here, hulle help om die wil van God te doen.
Onverskillige mense bid ook nie meer nie.
Ons moet vir hulle intree by God.
Jesus is ook gestuur om dit vir ons te doen!

Ernest