Jeremia het oral en deurlopend die boodskap van die Here verkondig.
In vandag se terme sou dit wat hy vir hulle gesê het min of meer so klink: Julle kerkganery beteken niks!
Kyk hoe onregverdig is julle politiek en ekonomie.
Julle laat arm mense swaar kry en buit hulle uit.
Julle betaal hulle te min sodat julle al ryker kan word.
Julle is self onbarmhartig, en dan wil julle hê God moet barmhartig wees met julle.
Geen wonder hy kry erge teenstand nie. Wie wil dit hoor?
Hy het hulle rus kom verstoor, en hulle gewete omgekrap!
Jeremia kla in moedeloosheid in 15:10:
"Ellende het my getref, Ma, toe Ma my in die wêreld gebring het.
Ek is 'n man wat dwarsdeur die land mense moet beskuldig, en met hulle moet twis. Ek het aan niemand iets geleen nie, en by niemand geleen nie, tog vervloek almal my."
Jeremia is so moedeloos dat hy sommer sy geboortedag vervloek!
Jeremia is ook ontevrede. Toe die Here hom geroep het, het Hy wel gesê Jeremia se werk is om "te vernietig en plat te slaan", maar ook om "te bou en te vestig" - 1:10.
Tot dusver voel hy dat hy nog net oordeel verkondig!
Hulle haat hom nou en beskou hom as 'n kermkous en suurknol.
Niemand weet eers dat hy vir hulle bid nie! Hy kry homself jammer.
God stel nie vir Jeremia vry van sy roeping as gestuurde nie.
God gee hom 'n belofte, in sy omstandighede!
Jeremia 15:11: "Die Here het belowe: Ek laat jou op die volk los, maar ten goede, Ek sal vir jou by jou vyande voorspraak doen, in tyd van nood en rampe."
Hierdie belofte beteken: God sal vir Jeremia sorg!
Ons kan ook moedeloos raak as gestuurdes van die Here.
Dit lyk net eenvoudig of dit wat ons sê en doen so min verskil maak!
Ons vergeet die woorde van die Here Jesus, dat 'n gestuurde jouself verloën, jou kruis opneem, en Jesus volg!
Sou jy die belofte van God glo as jy Jeremia was?
Glo jy dit as gestuurde van die Here,
in jou omstandighede van vandag?
Glo dit! God sê dit!
Ernest