Ons sluk soms swaar aan God se beloftes.
Wanneer ons moeilikheid kry, weerstand, swaarkry, en ons omstandighede verander nie so gou as wat ons dink dit moet gebeur na gebed nie, dan sluk ons swaar...aan beloftes van God.
As gestuurdes van die Here dink ons dikwels dit moet net voor die wind gaan. Span net jou seile, die wind is altyd daar.

Jeremia het gevind dit is nie so eenvoudig nie.
En hy kla in Jer. 15. Here, ek was bly toe U my as gestuurde profeet aangestel het - vers 16.
U weet dit tog - vers 15.
U weet ook dat dit oor U is wat ek beledig word.
Dit is omdat ek U gestuurde is,
wat ek uitgestoot word uit die "lekker" geselskap - vers 17.
Dit is U skuld dat ek nou so alleen is, en dat niemand van my hou nie.
Ek het in U diens getree omdat ek oortuig was dit is net die beste vir my.
Waarom maak U nou so met my? - vers 18.
U wil nie eens hoor as ek bid nie.
Nee, jammer Here. Ek kan U nie vertrou nie, al belowe U my nou ook wat.
In vers 18 sê Jeremia vir die Here: "Ek kan nie op U reken nie, net so min as op 'n stroom wat nie stanthoudend is nie."

Dalk voel jy ook dikwels soos Jeremia.
Dalk het jy dit nog net nie so reguit vir die Here gesê nie.
Ons doen dit dalk net anders. Ons gee net moed op.
En dan bly ons gewoon net stil, en begin later maar net maak soos die ander maak. Ons ry ook nou oor die stopstrate.
Dit is menslik om soos Jeremia moedeloos te word.
Mens wil eintlik sê: Goddank dat die Woord ons hiervan vertel, in God en Jeremia se geskiedenis!
Dit help ons nou om nie net stilletjies, as gestuurdes van die Here, op te gee nie!
Dit gee ons nou die vrymoedigheid om eerlik en opreg met God te "stoei", en Hom nie te los nie, soos Jakob gesê het, totdat Hy ons seën!
Ons kan weet dit help regtig om met God te worstel!
Hy veroordeel ons nie daarvoor nie.
Hy ken ons omstandighede beter as ons.

Dit is een van die grootste voorregte as gestuurde van die Here!
Dat ons so openlik en eerlik met ons God kan wees, soos Jeremia!
Psalm 139:1, 2 en 4 sê dit mos so treffend:
"Here, U sien dwarsdeur my, U ken my...
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom...
Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees..."
Dit gee ons alle vrymoedigheid voor God!
Hy weet reeds!

Ernest