God gee die volgende Leef as gestuurde met langtermyn visie
God gee die volgende tree vorentoe met Jeremia.
Hy los hom nie omdat hy moedeloos word en kla nie.
God help hom om perspektief te kry! Hy bly God se gestuurde!
Hy help Jeremia om te verstaan; ons werk is om mense agter ons aan te trek na God toe, om hulle saam met ons te neem, en nie om agter hulle aan te gaan nie.
Jeremia 15:19: "Die mense moet jou volg, nie jy vir hulle nie."
Mense se reaksie moenie ons maatstaf word nie.
Jou maatstaf, as gestuurde van die Here, is of jy jou roeping en taak uitleef waarmee die Here jou stuur!
Daarom moet ons nie resultate jaag, of haastig wees daarvoor nie.
Ons saai, gooi nat, en God laat groei.
In Jeremia 15:20 sê God per implikasie vir Jeremia dat Hy hom 'n doelgerigte gestuurde sal maak, "...want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou help..."
Waarom het Jeremia telkens so moedeloos geraak?
Jeremia het telkens so moedeloos geraak omdat hy elke keer op korttermyn doelwitte alleen ingestel was.
Die eerste keer:
Hy kla omdat God nie die mense dadelik straf soos Hy gesê het nie.
Die tweede keer:
Hy kla omdat die mense hom uitgesluit het en hy eensaam geword het.
Die derde keer:
Hy kla omdat hy dink die straf van God sal die Israeliete uitroei.
Elke keer is hy op korttermyn doelwitte gerig. Dinge moet nou verander!
Hy het nie perspektief op God se langtermyn doelwitte nie.
Die Prediker boek sê ons leef onder die son, onder die tydmeter.
God leef bo die son, bo die tyd. God se tyd!
Ons wil en moet steeds doelgerig wees,
maar ons werk nie soos 'n maatskappy wat net op produksie gerig is nie.
Ons is nie 'n organisasie nie, maar 'n organisme. Die liggaam van Christus.
God is nie aan ons tydsberekening gebonde nie.
Daarom kan God, anders as Jeremia, ver vooruit kyk, en reeds weet van die tyd waarin die Israeliete se straf uitgedien sal wees, na die ballingskap, wanneer hulle weer na hulle land sou terugkeer.
As ons moedeloos word wanneer dinge nie wil reg werk nie, of nie verloop soos ons dit beplan nie, is ons heel dikwels op die korttermyn gerig, en wil hê dat dinge net in ons eie lewe gou moet regkom.
As gestuurdes van die Here word ons deel van die werk wat God reeds doen!
God kyk vanuit sy perspektief na ons roeping en gestuurdheid.
Ons is deel van God se sending!
Dit help ons om dit te weet, en daarom te kan volhard as gestuurdes van die Here in hierdie wêreld.
Hoe opwindend is dit nie om te weet dat God sy doel sal bereik nie, en dat ons deel kan wees in die uitvoering daarvan!
Wat 'n voorreg en genade om God se gestuurde in hierdie wêreld te wees!
In die ewigheid sal ons sien watter groot verskil God gemaak het!
...ook deur ons.
Alle eer aan God alleen!
Ernest