Deesdae word omtrent alles vervals.
DVD's, parfuum, horlosies, sonbrille wat jy by verkeersligte kan koop, "brand" klere by vlooimarkte,...jy kan moeilik die verskil raaksien!
Die probleem is dat ook godsdiens nageboots word.
En nagebootste godsdiens loop so naby aan die waarheid, dat mense nie die verskil tussen godsdiens en die ware evangelie raaksien nie.
Dit gebeur ook in Lukas 18:9-14 met die Fariseër en tollenaar.
Die Fariseër was so godsdienstig as wat kan kom.
Met eie oortuiging sê hy:
"Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie:
diewe, bedrieërs, egbrekers,
en ook nie soos hierdie tollenaar nie.
Ek vas twee keer in die week en ek gee
'n tiende van my hele inkomste."
Dit klink baie indrukwekkend, en dit is vir die mense wat dit sien.
Godsdiens kan mense beïndruk!
Dit lyk na ware toewyding as mense streng toegewy is, aan reëls, wette en rituele.
Geen wonder nie dat mense so maklik terugval op 'n wettiese godsdiens.
Hulle begin weer sekere Joodse gebruike navolg, gebruik weer Hebreeuse name vir God...asof dit meer heilig is.
En sê ook ek is nie soos hierdie of daardie een nie...
God word nie beïndruk deur goeie werke,
of die nakoming van rituele nie.
Of dat jy dink jy dien Hom beter as ander nie.
Of jy is beter as ander nie.
Wanneer mense dit ontdek,
eers dan breek die evangelie deur en ontdek mense die goeie nuus dat Christus alleen ons waarlik vrygemaak het!
Dit laat jou saam met die tollenaar van Lukas 18 voor God staan met die hart en woorde van:
"O God, wees my, sondaar, genadig."
Wanneer ons in ons eie bankrotskap voor God staan, tree ware bevryding in.
Wanneer ons besef dat net sy genade alleen genoeg is, om ons waarlik vry te maak, word ons lewe een groot stuk dankbaarheid.
Dan maak vervalsings in ons lewe plek vir die ware evangelie.
Moenie godsdiens speel nie.
Leef die evangelie!
Ernest