Daar is skilders wat groot meesters se kunswerke naboots, en baie geld uit vervalsings maak.
Hulle vervalsings is so goed, dat kenners ingespan moet word om dit raak te sien en uit te ken.
Dit gebeur ook in die godsdiens. In die kerk!
Dit gebeur met groot skade aan die boodskap van die evangelie.
Paulus wys daarop in 2 Korintiërs.
Mense vervals die evangelie en mislei mense.
In Korinte was so 'n groep vervalsers wat mense mislei het.

Paulus ontmasker hierdie valse leraars,
en gee riglyne hoe om hulle uit te ken:
Hulle verkondig 'n ander Jesus en 'n ander evangelie - 11:4.
Daar moet dikwels iets bykom wat jy moet doen.
Jesus, plus nog iets. Een of ander gawe wat jy "moet" hê.
Of nog iets wat met jou moet gebeur.
Hulle oorreed mense met gladde praatjies en mooi woorde, en praat nie onder leiding van die Heilige Gees nie - 11:6.
Toets hulle aan die Woord van God.
Die Gees praat nooit teen die Woord nie!
Hulle maak geld uit die evangelie en leef in luuksheid - 11:7.
Ons sien dat dit tans weer aan die orde van die dag is.
Hulle gee voor dat hulle amptelike spreekbuise en apostels van Christus is - 11:13.
Hulle ontvang dikwels "openbaringe" van wat God vir hulle sê.

Hoekom kry hierdie mense dit steeds reg om in ons tyd gelowiges te mislei?
Hulle kry dit reg omdat Satan hulle aanvuur, en hy is die grootste vervalser in die skepping.
Satan kom nie so dat jy hom maklik raaksien nie.
Hy kom in die vorm van vroom vervalsers.
Hulle koel die evangelie af, en verdraai dit stukkie vir stukkie.
Hulle plaas jou eers langs die spoor, en dan weer 'n bietjie verder, en weer, totdat jy die spoor byster is, sonder om dit raak te sien.

Toets dit wat jy hoor en sien,
toets dit aan die Woord van God vir waarheid.
Lees 1 Tessalonisense 5 hieroor.
Wees daarom wakker en nugter!
Leef reg en eg voor die Here.
Leef met integriteit wat saakmaak, vir die Here.
Jou egtheid en opregtheid help mense om valsheid raak te sien.

Ernest