Dinge gebeur nie sit sit nie.
Daar moet beweging wees. Dinge moet vloei.
Beweging in denke en dade.
Stilstand lei vinnig tot stagnasie.
'n Motor wat net staan en nooit loop nie, gaan agteruit in terme van seëls, bande en smering.
Tog moet beweging of vloei in die regte rigting wees.
Niks wat stilstaan of passief is, verander nie.
Verandering en beweging moet gebeur ter wille van ontwikkeling en groei.
Ook in die kerk gebeur niks nuuts in die Here se Naam sommer net sit sit of staan staan nie.
Stilstand bring regtig geen verandering nie.
Dit handhaaf net die status quo of 'n toestand van ekwilibrium.
In die ingewikkelde wêreld van die kwantumfisika, is ekwilibrium gelyk aan stagnasie en die dood.
Alle verandering wat die moeite werd is vra om beweging.
In die Ou Testament sien ons dit met die volk in die woestyn.
Elke slag moes hulle die tentpenne uittrek, en aanskuif saam met God se wolk.
Skuif-skuif en tree vir tree het hulle die beloofde land bereik.
Paulus moes ook tree vir tree die evangelie dra.
Die evangelie het nie sit sit versprei nie.
Hy het oor die 16000 km daarmee gestap in die Romeinse Ryk.
Die Here roep ons om meer te doen as om in die kerk te sit.
Hy roep ons ook om meer te doen as om net "op te staan" vir Hom.
Nie sit sit of staan staan nie..
Ons roeping bring ons in beweging vir Hom!
Dit is om agter Jesus aan te stap.
Om te beweeg saam met Jesus!
Ons moet God se ryk die wêreld vol laat kom.
Paulus sê ons het evangelie-skoene aan ons voete!
Efesiërs 6:14-15: "...toegerus met die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete." Beweging!
Ons moet nie net van sit na staan verander nie, maar na beweging!
Ons moet nie net passief raak in 'n nuwe posisie nie.
Beweeg met die evangelie!
Ernest