Ons weet ons sal nie beweeg met die koninkryk van God as ons maar
sit sit en staan staan dink dat dinge vanself sal gebeur nie.
Ons is geroepenes en gestuurdes om te gaan en te doen.
Baie tekste beklemtoon dringendheid in die koninkryk.
Die vraag is: Is dit verkeerd om werk te beoordeel in die kerk?
Nee. Dit is nie. Die vraag is eerder wat die regte meetinstrumente is?

In die sekulêre wêreld is prestasiemeting, bonusse en tydstate belangrik.
Reeds in 1909 het Frederick Winslow Taylor se boek
“The Principles of Scientific Management” die lig gesien.
Bestuurders moet op ‘n wetenskaplike manier bepaal hoe lank dit
werkers neem om take af te handel.
Produktiwiteit is letterlik op stophorlosies gemeet.
Dit het later bekend geword as “Taylorism”. Moderne produktiwiteit.

Kerke het begin om kerklike produktiwiteit hieraan te meet.
Jaarliks moet ‘n aantal besoeke, preke en vergaderings ingepas word.
Hierdie meetinstrumente is afkomstig uit die winsgedrewe besigheidswêreld.
Mense word dan “meganisties” verstaan as items in ‘n godsdienstige ratwerk.
Waarde word dan gemeet aan herhaaldelike en getroue afhandeling van take.

Paulus skryf in 1 Korintiërs 3 dat almal wat bou aan die koninkryk van God,
hulle geestelike bougereedskap goed moet kies.
Hulle moet ander mense as gelowiges opbou.
Hout, hooi en stoppels sal nie goeie boumateriaal wees nie.
Op die laaste dag sal die Here toets of hulle die evangelie met oorgawe,
suiwerheid en liefde oorgedra het. Dit kan nie haastig gedoen word nie.
Die regte meetinstrument gaan oor ons getrouheid aan die boodskap van Christus,
asook oor ons integriteit in die uitlewing daarvan,
en die volharding op hierdie pad as volgelinge van Jesus!
Dit gaan nie oor die hoeveelheid ure wat ons aan take bestee,
of by hoeveel mense ons uitkom nie. Dan loop ons hoe weier hoe vlakker.

Paulus skryf in 1 Korintiërs 4:3-5 oor mense wat sekere “produktiwiteit”
van hom verwag het: “Maar vir my is dit nie van die minste belang of my
betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie.
Trouens, ek beoordeel dit self nie eers nie. Daar is ook niks waaroor my
gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie.
Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg ,
voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie.
Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is,
aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê.
Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.”

Ernest