Hoewel ons doeltreffendheid in die kerk anders meet as in die wêreld,
moet ons bedag wees op geestelike geriefsones.
Geestelike geriefsones is gevaarliker as al daardie probleme
waarteen godsdienstiges dikwels preek en waarsku.
Terwyl ons in die gerief van ons huise en kerke sit en gesels
oor alles wat in die wêreld verkeerd is,
en nie ons hande wil “vuil” maak met die nood en pyn
van ander rondom ons nie, is ons bloot net godsdienstig.

Wat help dit? Dan geld Jakobus 2 se woorde ook van ons,
dat geloof sonder die nodige dade van omgee en medelye
niks beteken nie. Jakobus 2:18:
“Iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander
het die dade. “Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is,
en ek sal jou my geloof wys uit my dade.”
Geloof wat nie God se hart sigbaar laat klop vir verlorenes,
stukkende en eensames nie, is doodgebore.

Hierdie is die grootste dilemma wat talle kwynende kerke
en godsdienstige groepe in die gesig staar.
Dit help nie om te sê: “Here, hier is ek, stuur hom...” nie.
Ons is as gelowiges gestuurdes van die Here!
Dit help nie ons weet presies wat verkeerd is in die wêreld,
maar ons doen net mooi niks daaraan nie.
Die wêreld se nood is waar ons is, nie “daar ver” nie.
Ons kan nie as gemeente, as geloofsgemeenskap,
bloot ‘n plek wees wat kennis berg nie.
Dit wat ons van die Woord van God weet,
moet lewensveranderend in ons werk,
en deur ons in die lewe van mense rondom ons.
Ons kennis van die Woord van God wat ons opbou uit preke,
stiltetyd, geestelike boeke, en medegelowiges,
moet geïnternaliseer word en uitgeleef word!
Dit is lewensgevaarlik om week na week net op die regte kerklike
plekke te wees, maar nie die evangelie uit te dra en uit te leef
tot redding van hulle rondom ons nie!

Lewensgevaarlik...want dit kos lewens wat nie vir God ken
of vir Hom leef nie.
Lewensgevaarlik...ook vir jouself,
as jy met godsdiens besig is sonder die Here...

Ernest