Ons praat oor geestelike gerief sones.
Moet almal inpas in hoe ons gewoond is om te doen,
in hoe ons dit nog altyd doen?
Ons weet nie mooi wat om met die te doen wat nie
volgens die reëls optree, of buite die boks dinge aanpak nie.
Mense voel ook gewoonlik dat hulle moet inpas.
Uitskieters is moeilikheid in die meeste organisasies.
Is dit ook so in die gemeente, in die geloofsgemeenskap?
Wanneer daar ‘n vakature in die werk vir die Here is,
soek ons te maklik net na iemand wat sal inpas.
Om in te pas is nie opsigself ‘n slegte ding nie.
Gallup, die navorsing reus, het gevind dat mense wat
‘n verskil maak ook wil voel dat hulle inpas.
Veral as dit nie bloot om hulself gaan nie.

Om uit te skiet bloot net om anders te wees, is onvolwasse.
Wanneer dit egter ons enigste doel is om maar net in te pas,
en nie golwe te maak nie, flikker daar ook rooi ligte.
Dan begin ons sit-sit en staan-staan vir die Here werk.
Dan kom daar nie energie los wat skeppend is nie.
En kort voor lank is ons gewoon net “people pleasers”.
Verandering, konflik en verskille, wat reg hanteer word,
maak baie skeppende energie los!

Mense wat die wêreld “andersom” laat draai, pas ook in.
Hulle is nie so uit pas dat hulle as vyande gesien word nie.
Almal is nie geskok of verbaas as hulle waag om stroomop
te swem nie. Hulle integriteit is net so bo twyfel.
Paulus was so ‘n verskil maker.
In Handelinge 21:13 sê hy vir die medegelowiges:
“Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane?
Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in
Jerusalem nie net gevange geneem te word nie,
maar selfs ook te sterwe.”

Verskil makers soos Paulus en Martin Luther het die moed
van hulle oortuiging gehad om, wanneer dit nodig was,
alleen te staan vir die evangelie waarin hulle glo.
Hulle persoonlike gewildheid en sekuriteit was ondergeskik
aan hul oortuiging om die kerk na nuwe plekke te lei.

Kom ons toon die waagmoed om nie in gerief sones vas te val nie.
Kom ons durf die nuwe roetes aan wat die Here vir ons aandui.
Gestuurdes word aangevuur om grense oor te steek,
saam met die Here, vir die Here!

Ernest