Ons kan deesdae amper enige iets oor die pos of internet bestel.
Maar karakter kan jy nêrens bestel nie.
Integriteit word gebou op die karakter wat God in ons bou.
Die Here verander ons altyd van binne af buitentoe.
Sy werk gebeur binne ons en word al hoe meer sigbaar na buite toe.
Die Heilige Gees vorm ons om al hoe meer die beeld en
karakter van God te vertoon. So weerkaats ons die glans van God.
Die Spreukeboek leer ons op verskillende maniere hoe
karaktervorming reg gebeur. Spreuke 21:2 verduidelik dat
die regte karaktervorming nie bloot gebeur as gevolg van
godsdienstige handelinge nie.
“Die Here verkies dat ‘n mens doen wat regverdig en reg is,
eerder as dat jy offers bring.”
Offers vir die Here was in daardie tyd die heel
belangrikste godsdienstige handeling.
En tog kies die Here “dat ‘n mens doen wat regverdig en reg is”,
bo die bring van offers aan Hom.
Ons karakter ontwikkel wanneer ons reg doen
in God se teenwoordigheid, in alle lewensomstandighede.
En God is in alle lewensomstandighede teenwoordig!
Regverdiges is mense wat nederig leef voor God en ander mense.
Hulle het nie behoefte aan erkenning nie en is nie selfgerig nie.
Regverdiges probeer nie ander mense beïndruk nie.
Hulle doen eenvoudig net God se wil in konteks.
Daarom word ook gesê dat Christelike integriteit is om
kontekstueel relevant te wees, as verteenwoordiger van die Here,
in alle omstandighede, en by alle mense!
Jy is gewoon lig en sout en suurdeeg van die Here, vir die Here!
Jy vind jou identiteit in God.
Laat toe dat die Heilige Gees deurgaans jou karakter bou!
En leef met integriteit as sy verteenwoordiger!
Ernest