“Die selfsugtige mens lewe net vir homself,
hy verwerp alle oorlegpleging” - Spreuke 18:1.
Deesdae wemel ons samelewing van mense
wat “netwerk”.
Dit is ‘n wonderlike hulpmiddel vir so baie dinge.
Maar daar is ook mense wat “netwerk” gebruik
om mense uit te buit.
Hulle stel nie belang in die mens nie,
maar net wat hulle uit die mens kan kry.
Hulle is menslike verbruikers,
en wil niks by ander leer nie.
Dit gaan net om hulself.
Hulle is nie leergierig nie maar verbruik-gierig.
Hulle is nie oop om by ander mense te leer,
en deur hulle opgebou te word nie.
Alles gaan daaroor oor watter voordele
ander mense vir hulle inhou.
So lank as wat mense vir hulle “goeie kontakte” is,
sal mense hulle “vriende” wees.
Wanneer jou nuttigheidswaarde afneem,
stoot hulle jou eenkant toe.
Hulle is dan op die uitkyk vir nuwe slagoffers,
wat hulle kan “netwerk” en opgebruik.
Spreuke noem sulke mense dwase!
Dwase is onleerbaar, selfsugtig, verwerp goeie raad,
en is altyd reg.
Hulle soek byvoordele, nie raad nie.
Hulle soek geleenthede, nie hulp nie.
Spreuke waarsku ons herhaaldelik, herhaaldelik,
om regtig lig te loop vir dwase.
Hulle is nie jou vriende nie, al lyk dit so.
Hulle is ook nie God se vriende nie.
Vra die Here om, deur die Heilige Gees,
aan jou die onderskeidings vermoë te gee.
Hulle probeer ook met God wat hulle met jou probeer.
Hulle wil hemel en aarde tap tot hulle eie voordeel.
Lees maar Spreuke 18.
Hoe moet ons teenoor hulle optree?
Die roete vir regverdiges,
is nooit om met dwase te stry nie.
Dit is om energie te mors.
Dit is om op die dwase se terrein met
hom te gaan kompeteer.
Spreuke sê die Here se Naam is ‘n sterk vesting vir wyses.
Spreuke 18:10: “Die Naam van die Here is ‘n sterk vesting;
die regverdige vind daar skuiling.”
Wanneer jy agterkom dat jy op die terrein van dwase is,
moet jy jou toevlug in die Here soek.
Hy is sterker as die dwaasheid van die wêreld.
Ernest