Mense sal sê dat hulle onder God se gesag staan,
maar hul optrede sê nie dieselfde nie.
Die een TV reeks na die ander gaan oor magtiges en beroemdes.
Die indruk word geskep dat leiers van groot moonthede,
Geldmagnate, en celebrities die wêreld aan hulle voete het,
en die lewe bepaal. En hoe maklik kies die wêreld nie hierdie
mense uit as hulle rolmodelle nie.
Navorsing het aangetoon hoe ‘n groot aantal tieners celebrities
wil word en glo hulle gaan dit regkry,
om die wêreld aan hulle voete te kry.

Inderdaad is daar niks mee verkeerd om een te wees nie.
Die Here ontplooi sy mense oral!
Ester, die universele skoonheidskoningin,
is in die Here se diens aan die hof van die koning.
Die wêreld kragman, Simson, word deur die Here gebruik.
Josef word die onderkoning van Egipte,
die magtigste dinastie in die wêreld.
Daar is egter ‘n verskil tussen die mense wat die wêreld aan
hulle voete het, en die wat aan God se voete is,
ook al is hulle celebrities.

Spreuke leer ons dat alle mense,
al is hulle “fire and fury” mense,
nietig voor God is.
Nie eers die magtigste konings kan hulle wil
laat seëvier bo God se wil nie.
Hulle kan maar hulle planne maak,
maar dit is God wat uiteindelik sy wil deurvoer.
“Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here,
soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies – Spreuke 21:1.

Daarom is dit beter om voor God te buig.
Om God se lof te besing eerder as jou eie lof.
Om Hom te aanbid is ‘n lewe van wysheid.
Dit is ‘n geseënde lewe wat die guns van God en mense geniet.
Dit is om God se wil te soek en te doen,
en deur Hom tot seën vir die wêreld gebruik te word.
Om jou eie lof te besing is dwaasheid.
Inderdaad is so ‘n lewe moontlik vir enige mens,
in watter posisie ookal. Ons sien dit in die wêreld raak.
Derduisende mense in magsposisies leef so,
en maak God se hart bly.

Ons moet ook na onsself kyk.
Doen God se wil, leef dit doelbewus uit,
in die magsposisie waarin jy leiding neem,
met nederigheid en wysheid.
Wat jou posisie ookal is,
jy bly ‘n dienskneg van die Here.
Eer Hom en besing sy lof!

Ernest