“Die tyd het aangebreek,
die koninkryk van God het naby gekom.
Bekeer julle en glo die evangelie.” Markus 1:15.
Dit is merkwaardig ontstellend dat mense nog steeds
met twee stelle waardes leef, een vir die kerk,
en een vir die “regte wêreld” waarin ons leef.
Kerkgebou mense meet kerklike betrokkenheid aan die
hoeveelheid mense wat in die kerk sit. Met klem op sit.
En die wêreld moet nou uit die kerk “bereik” word.
Daar is niks mee verkeerd om in die kerk bymekaar te kom nie.
Inteendeel. Dit is waar die gemeenskap van gelowiges
doelbewus saamkom om te aanbid.
Maar gelowiges is daar om toegerus te word,
en deur die Heilige Gees uit te gaan as gestuurdes van die Here,
die hele wêreld in. Suurdeeg, sout, lig!
Die probleem is wanneer kerk alleen die doel opsigself word,
en alles na binne toe gebeur. Huishoudelike of eie sake.
Jesus het nooit aan die kerk as ‘n eenkant
godsdienstige aktiwiteit gedink nie.
Die woord “kerk” of “gemeente” kom net drie keer
in die Evangelies voor. In Matteus 16:18,
en twee keer in Matteus 18:17. Dis al.
Jesus het die koninkryk van God hierheen gebring.
Hy het ‘n splinternuwe wêreld aangekondig.
Dit is in ons midde in ons daaglikse lewe.
Dit is die hele wêreld vol!
Dit is daar waar die Here ons vandag wil hê.
Waar ons bid vir die koms van sy koninkryk in Matteus 6:10,
en waar ons self deel is van God se antwoord op
hierdie gebed, deur sy koninkryk te proklameer
met ons leefwyse.
God laat die koninkryk van God grondvat,
deur jou!
Ernest