Rachel M. Evans skryf in ‘n blog op CNN Religion:
“We’re not leaving the church because we don’t find
the cool factor there; we’re leaving because
we don’t find Jesus there”.
Daar word dan aangedui hoekom die “millennial” generasie,
mense tussen 18-29 jaar, kerkverlaters is.
Daar word dan ook aangedui hierdie mense soek nie ‘n
verandering in kerkstyl nie, maar in substansie!
Nie nog vermaak nie, maar nuwe betrokkenheid
by die nood van mense.
Gelowiges wat voltyds betrokke raak by die wêreld waaroor
hulle so preek, en skryf, en oordeel!
Vir baie mense in die kerk, wat dit as ‘n “veilige hawe” sien,
is dit bedreigend.
Dit vra om verandering by hulleself!
Die Here Jesus het nooit bedoel dat “kerk” eenkant
moet afspeel nie, maar dat gelowiges deel van God se sending
in die wêreld moet wees. Sendeling te wees waar jy leef.
Gestuurde van die Here te wees waar jy invloed het.
Nie om die wêreld te “bereik” uit die kerk,
en dan gereeld terug te keer “kerk” toe nie.
Jesus het in sy tyd op aarde min tyd in die “kerk”,
die sinagoges, deurgebring.
Hy het ook nie ‘n klooster lewe geleef nie.
Baie gelowiges keer terug na ‘n kloosterlewe,
vanwaar hulle uit ‘n veilige ruimte alles wat in die wêreld
verkeerd is beoordeel en veroordeel.
Nie Jesus nie! Hy was in die wêreld!
Daar waar mense geleef, gewerk en ontspan het.
Daar het hy God se nuwe wêreld aangekondig en geleef!
Saam met sondaars, nie-Jode, onreines, hoogs-godsdienstiges,
uitgeworpenes, soekers, en doodgewone mense,
het Hy gekuier, geëet, en gepraat oor die nuwe lewe.
Jesus wil hê ons moet so in sy voetspore volg.
“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.”
Gaan deel die Here se liefde met die stukkende wêreld.
Gaan leef saam met mense wat anders leef, is en dink.
Werk, eet en speel saam.
Laat die koninkryk van die Here daar kom.
Dan is jy helder lig in donker.
Sout wat smaak gee en bederf teëwerk.
Suurdeeg wat die hele deeg deursuur,
deur die Gees wat deur jou werk.
Magneties, deur mense na die Here te trek,
met die Here se liefde.
Jesus is dan op relevante en lewensveranderende
wyse, deur jou lewe, aanwesig by mense!
Ernest