Die belangrike feit is: wanneer jy ‘n kind van die Here is,
is jy per definisie deel van die kerk van die Here.
Jy kan nie op die kantlyn staan nie. Jy is in die wedstryd.
Wanneer jy jouself as ‘n navolger van Christus beskou,
moet jy die waagmoed hê om as deel van die
geloofsgemeenskap onvoorwaardelik saam met Hom
te beweeg. En beweeg Hy nie! Jesus beweeg verseker!
Hy sit nie stil nie. En net deur saam met Jesus te beweeg,
sal ons as gelowiges se impak dramaties verhoog.
Dit is wat dit beteken om ‘n gestuurde van die Here
in hierdie wêreld te wees.
Die vroegste Christene was so gerat en bedraad.
Hulle het saam met die Here die evangelie die wêreld ingedra.
Hulle het nie in kerkgeboue gesit nie.
Hulle het nie professionele mense in diens geneem wat hulle
op ‘n gereelde basis moes kom besoek het nie.
Hulle was in die eerste paar eeue ver in die minderheid in die
Romeinse Ryk. Tog het hulle hul medemens op magnetiese
manier gedien en na Jesus toe aangetrek.
Efesiërs 4:11 wys dat die leiers nie priesters was wat in
kerklike gewade rondbeweeg het nie.
“Dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”:
apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.”
Hulle het nie gesit en wag vir geestelike “kliënte” nie.
Gelowiges en leiers was mense van die pad.
So omskryf buitestanders hulle in Handelinge 9.
Hulle geloof het hulle die wêreld vol laat loop, dien en liefhê.
Ons moet weer uitverkoop raak aan God se sending
in die wêreld. Om saam met Jesus te beweeg.
Om God se koninkryk om elke hoek en draai sigbaar te maak.
Ons moet verhoudingsmense wees wat begryp dat God
se liefde ons identiteit bepaal.
Vreemdes, randfigure, soekendes, en mense wat stukkend is,
moet ‘n tuiste tussen ons vind.
So sal God se liefde die wêreld oorspoel.
Gaan leef magneties in jou stukkie wêreld.
Leef so, dat die Here Jesus vir mense wat met jou te doen het,
onweerstaanbaar raak.
Gaan jy impak maak….of nie?
Ernest