Mense vra dikwels: Wat doen jy?
Hierop het Stefan Joubert geantwoord:
“Ek is ‘n voltydse dissipel van Jesus,
wat ook in vermomming ‘n paar ander dagwerke het.”
Waarop iemand vir hom vra: “Wat doen jy regtig?”
Waarop hy herhaal: “Ek is ‘n voltydse dissipel van Jesus”,
en toe in detail verduidelik dat hy ook ‘n paar ander
dagwerke doen, eerstens as dissipel van Jesus.
Steeds was dit vreemd op die ander persoon se ore.
Ons almal is so gekondisioneer deur die feit dat ons
identiteit en roeping direk verbind is met die beroep
wat ons beoefen, dat ons dit moeilik uitmekaar kan haal.
Die belangrike is:
Wie ons is, definieer ons identiteit, nie wat ons doen
in terme van ons daglikse beroep of werk nie.
Dit wat ons doen is belangrik. Maar wie ons is, bepaal dit.
Wanneer ons weet wie ons in Jesus is,
verstaan ons wat ons saam met Hom moet doen.
Dit is ons roeping! Ook waar ons werk.
Baie van ons vind steeds ons identiteit in ons
beroep of dagwerk. Ons sukkel om anders daaroor te dink.
Daarom is dit vir ons moeilik om los van ons beroep
aan ons roeping te dink.
Ons dagwerk is die plek waar ons daagliks ons
roeping uitleef, ook en juis in dit wat ons daar doen!
Dit is waar ons as dissipel van die Here leef en dien!
Daar oorroep ons identiteit in Jesus alles wat ons doen.
Ons is in die eerste plek, bo alles, dissipels van die Here!
Kolossense 3:23: “Wat julle ook al doen,
doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”
Ernest