Kan mens ooit die verlossingsboodskap van Jesus
te veel hoor?
Wanneer jy onthou waarheen jy op pad was,
en wat sou gebeur as Jesus jou nie verlos het nie,
wil jy eintlik hierdie boodskap oor en oor hoor.
Jy kry nie genoeg daarvan nie.
Die Boodskap vertaal 1 Petrus 1:2:
“…Jesus het gesorg dat hulle vir God aanvaarbaar is;
daarvoor moes Hy egter sy eie lewe gee.”
Dit is lewensreddend en lewensveranderend!!

Dade wat ons gedoen het, en dikwels steeds doen,
stoot God af. Ons verdien ‘n Godverlate pad.
Maar God los ons nie. Hy het in ons plek Jesus Godverlate
aan die kruis gelos! Wanneer Hy na ons kyk deur
die kruis van Jesus Christus, is dit asof Jesus se kruis ons
verkeerde dade uitfiltreer.
Dan staan ons skoongewas deur die bloed van Jesus
voor God. Hy maak ons aanvaarbaar vir God!

Dit gee my egter nie die reg om goedkoop te leef
met God se liefde en genade nie!
Ek kan nie maar weer en weer in die modder gaan rol
omdat God se liefde en genade so groot is nie.
Jesus se prys was die duurste prys denkbaar.
Eintlik menslik ondenkbaar duur!
Dit is al wat kon maak dat ek weer voor God kan staan.
Dan kan ek mos nie Sondag na Sondag in die kerk sit,
en onaangeraak daar uitkom nie.
Ek kan mos nie in die wêreld inbeweeg as gestuurde
van die Here, sonder dat dit lewensveranderend is nie.
Hoe kan ek dan verby iemand stap wat swaarkry,
op watter manier ookal, en wie dit ookal is,
sonder om dit raak te sien en iets daaraan te doen?
Dan kan ek mos nie so teenoor my geliefdes optree
dat ek hulle gereeld seermaak nie.
Dan kan my eie ego mos nie meer voor in die ry staan nie.
Hoe kan ek al die genade wat ek van God ontvang,
net vir myself hou?

Redding in Jesus laat jou opspring! Opspring om God
se liefde en genade onvoorwaardelik uit te deel!
God se liefde en genade oorstroom my,
en ek moet ander daarmee oorstroom.
Ek moet beur teen my eie ek, en onselfsugtig uitdeel.
Wanneer jy besef wat God vir jou gedoen het,
kan jy nie anders nie. Hoe kan jy?!
Kan jy glo! Jy is weer aanvaarbaar vir God,
deur die kruis van Jesus!
Dit is lewensveranderend en laat jou inderdaad
anders lewe as die wêreldse norme!
Doen jy?

Ernest