Wanneer die branders woes om jou slaan,
en jy geen uitweg op die horison sien nie,
en dit lyk en voel of jy wil ondergaan,
dan is dit dikwels moeilik om net aan jou geloof
vas te hou. Daarom dat die Woord ons soveel keer
juis daarin bemoedig en versterk, om aan jou geloof
in die teenwoordigheid van die Here vas te hou!
Die Boodskap vertaal 1 Petrus 1:2:
“...Mag God vir julle baie goed wees. Mag julle rustig
en veilig by Hom voel, sonder dat enige iets julle pla.”
Was jy al daar waar jy voel jy is op Godverlate vlakte?
Jy bid en bid en niks kom reg nie. Dit voel vir jou of
Bybeltekste niks aan jou werklikheid verander nie.
Dat dit vir jou voel: God is nie by my nie!
Is hierdie teks uit 1 Petrus 1 dan net nog ‘n stuk pleister
om op ‘n groot en diep wond te plak? Maar dit help nie...
Petrus se lesers was ook in doodsgevaar.
Hulle is een na die ander doodgemaak vir wat hulle glo!
Dit voel of dit nog erger is! Doodgemaak omdat jy in Jesus glo!
Hoe kan ‘n mens rustig en veilig voel in sulke omstandighede?!
Hoe kan, volgens die teks, niks jou pla nie?!
Nog erger: net na Petrus hierdie brief geskryf het,
is hy kop onderstebo aan ‘n kruis vasgespyker!
Konklusie: Petrus wéét van swaar!
Hy weet sy tyd is min. Hy is ook bang.
Hy is in die oog van die storm. Maar te midde daarvan bid hy,
vir hom en hulle rondom hom wat kans staan om te sterf
vir hulle geloof in Jesus. Hy glo dat God vir hulle sal goed wees,
in die skadu van vervolging en dood.
God is in beheer al werk die dinge nie uit soos ons wil hê
dit moet uitwerk nie. God loop langs ons, woon in ons,
al gaan ons liggaam en aardse lewe deur doodmaak dinge.
Hy glo en hou vas aan rustigheid in God.
Ons moet ook. Weet en glo en voel God is by jou!
En bly bid. Soos Petrus.
Hierdie Woord kom van God.
Dit is nie ‘n stukkie pleister nie.
Ernest