“God, die Vader van Jesus Christus,
is darem groot en wonderlik.
Hy self het ons sy kinders gemaak.
‘n Mens staan verstom voor sy geweldige goedheid.”
Staan jy ook verstom oor wat God vir jou
in sy goedheid gedoen het?
Dit is groot en wonderlik!

Die volgende vers 4 is egter moeiliker om te begryp:
“Met al die dinge wat Hy vir ons beloof het,
kan niks skeefloop nie, want dit kan nie stukkend of
verlore raak nie. God bêre dit vir ons daar by Hom.”
Is dit regtig so dat niks kan skeefloop nie?
Om ons lyk die lewe nie so rooskleurig nie.
Mense is stukkend en wil nie maklik vat kry aan
hierdie teks nie. Iemand sê:
“Ek het nie net my kind verloor nie,
maar daarmee saam ook die Here!”
Hoe moet ons dan nou hierdie woorde
van Petrus verstaan?

Vers 4 praat nie van die lewe hier op aarde nie,
maar van die prys wat ons na die aardse lewe
sal ontvang. Aan die feit kan niemand iets doen nie.
God het deur Jesus se sterwe aan die kruis
aan ons die lewe gegee, in Hom,
wat nie van ons weggeneem kan word nie.
Dit kan nie stukkend of verlore raak nie, sê die teks.
Die duiwel kan dit ook nie van ons roof nie.

Maar tog is ons nog deel van hierdie wêreld en sukkel ons!
God is egter nie onbetrokke by ons nie!
God se genade skop nie eers in as ons aardse lewe verby is nie.
Inteendeel! God weet dat dit dikwels baie swaar gaan op aarde.
Juis daarom het Hy Jesus gestuur.
Hierdie vers 4 is nie net ‘n “pie in the sky” vir hierna nie.

Daarom kom gee vers 5 nou aan ons gemoedsrus:
“God hou julle juis nou styf vas sodat niks met julle gebeur
wat julle geestelik kan seermaak nie.
Hy is sterk genoeg om dit te kan doen.
Vertrou daarom op Hom, want Hy gaan julle kom red.”
God is by ons, ook in die moeilikste omstandighede van die lewe.
God los ons verseker nie om maar op ons eie swaar te kry nie.
Daar is egter nie ‘n belofte dat die lewe deurgaans
op ‘n mooi snelweg hardloop nie.
Dikwels ry ons grondpad met groot slaggate.
Wat wel belowe word is dat God saam met ons sal bly.
Hy sal ons raad gee, en insig, en wysheid, en onderskeidingsvermoë,
en Hy sal sorg dat ons nie van die geloof-pad afgeruk word nie.
Glo God hiervoor. Neem Hom op sy woord hiervoor.
Vertrou Hom hiervoor.
Leef so naby aan Hom dat jy sy fluistering kan hoor.
Hy vorm ook deur dit alles aan ons karakter,
om meer soos Jesus te word.

Ernest