Die lewe is dikwels soos die branders by die see.
Die een ry jy tot op die sand.
Die ander een dop jou om en rol jou in die sand.
Jy spartel vir asem en sluk soutwater.
Jou neus brand en jou swembroek is vol sand...
Die lewe doen dit ook aan ons.

1 Petrus 1:6-7: “Dit kan gebeur dat daar in julle
alledaagse lewe dinge gebeur wat nie vir julle lekker
is nie en wat julle geloof op allerhande maniere toets.
Moenie dat dit julle van stryk bring nie.”
Ons is dikwels in die lewe van stryk af!
Ons probeer gate toestop dat die damwal nie breek nie,
maar daar is net te veel. En gou gou vra ons: waarom!?
Die Here kom verduidelik so treffend deur ‘n beeld
wat Petrus gebruik in vers 7:
“…Kom ons neem goud as voorbeeld.
Geld wat van goud gemaak is hou natuurlik nie
vir altyd nie. Tog doen mense moeite om dit in ‘n baie warm
vuur te sit om so al die vuiligheid wat in die goud vassit,
weg te smelt. So is dit met die geloof ook.
Dit moet getoets en suiwer gemaak word.
As julle geloof deur al die moeilikhede heen sterk bly,
sal daar by die wederkoms van Jesus gesê word watter mooi
voorbeeld julle met julle geloof gestel het.
Almal sal daaroor praat.”

God weet wanneer ons van stryk is en besig is om te sink.
Met hierdie teks kom gee Hy vir ons sin in die
moeilike omstandighede. Moed om die lewe in die oog te kyk.
God is besig om die onsuiwerhede uit ons te sif,
en ongelukkig is daar sommige van die vullis wat
hardnekkig klou!
Daarom dat daar dikwels baie hitte nodig is!
Moenie toelaat dat jy in die hoek van die lewe gaan sit
omdat jy swaarkry nie. Verstaan dat jou geloof getoets word,
en hou nog stywer aan God se beloftes vas!
Kyk deur die onweerswolke,
en weet God laat die son bokant dit skyn, ook oor jou lewe!
Werk saam met God die vullis uit jou lewe uit,
sodat jy suiwer goud word.
Groei om die karakter van Jesus te vertoon.

Ernest