Reeds in die Ou Testament het die profete al
gepraat van God se reddingsplan.
Hulle het seker ook bespiegel oor presies hoe.
Wat ons wel weet is dat die profete sê God het
‘n reddingsplan. 1 Petrus 1:11 verwys daarna:
“Die Gees van Christus wat ook aan hulle aan die werk was,
het hulle daarmee gehelp. Die Gees het vooraf duidelik gesê
dat Christus sal moet ly,
maar dat God daarna aan Hom groot eer sal bewys.”
Hierdie vooruitkyk na Jesus se koms het hulle so opgewonde
gemaak dat hulle dit aan almal vertel het.
In swaar tye het hulle aan hierdie belofte vasgehou.
Jesus sal kom red!
Daar was selfs ‘n roering tussen die engele!
Vers 12: “Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs
die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur.”
Raak ons nie dikwels so vasgevang in die wêreld dat ons
die impak van die daad van God om sy Seun vir ons aan
‘n houtkruis te laat hang by ons laat verbyglip nie?
Ons raak selfs blasé daaroor.
Oor die 2000 jaar later is die wêreld nog aan die brand met
die Evangelie wat lóóp!
Elke keer as jy die jaartal in jou lewe neerskryf,
is Jesus die verwysingspunt daarvan.
2018 jaar terug het Jesus gekom...vir ons, vir mý!
Het die boodskap sy krag in ons verloor,
omdat dit vir ons ou nuus is?
Nuwe bekeerlinge verras ons dikwels weer met
die opgewondenheid hiervan.
Is ons ongemak met hulle nie dalk dat ons dink dit is
ou nuus en nou leef ons ook maar so terloops
daarmee saam nie?
Kom ons skrik weer wakker oor die grootheid
van hierdie reddings daad van God in ons lewe!
Kom ons leef weer die verlossingsboodskap met passie!
Vier met jou lewe die genade geskenk
wat jy van God ontvang het!
Ernest