1 Petrus 1:13 sê in Die Boodskap:
“...Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra.”
Dit is nie altyd maklik nie. Regtig.
Wanneer die storms van die lewe tref,
gebeur dit gereeld dat ons menslike instink inskop.
Ons begin optree soos ons in die verlede opgetree het,
en self beheer wou neem. Jou eie planne moet jou nou
uit die gemors kry.
Jy gee nie tyd om agter te kom wat God se wil binne
die situasie is nie. God verwag verseker dat ons ook
verantwoordelikheid moet neem en moet optree,
maar wanneer ons optree moet ons nie teruggryp na ons
ou manier van doen, sonder Hom nie.
Ons moet God se manier van doen aanleer,
en daarvolgens optree as sy kinders.
Dit is maklik om mooi te praat en goed te doen
in rustige en maklike tye,
maar wanneer die volstruis teen die windpomp vas vlieg,
die “paw-paw die fan strike”,
staan die ou manier van doen weer op.
Petrus weet dit, en daarom gee hy die raad in vers 14-15:
“Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër
so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou
verkeerde dinge weer te doen,
moet nie eens by julle opkom nie.
Julle het toe mos nie van beter geweet nie.
Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees.”
Met ander woorde: Leef anders in alle omstandighede.
Leef nou soos God dit wil hê.
Moenie “default” na jou ou self nie.
Juis wanneer dit so moeilik is,
Is dit die tyd om nog meer 100% op God te vertrou.
God sal jou weer help as jy sy wil wíl doen. En weer.
Moenie dat jou omstandighede jou oë afhaal van God af nie.
Dit vra dat ons ook blindelings moet kan glo.
Dit vra óók dat ons reg moet optree.
Dit gebeur makliker om reg op te tree as ons God glo en vertrou.
God sal ons op sy manier deur ons krisisse dra.
Soek sensitief na God se wil en vertrou Hom!
Ernest