Voor die koms van Jesus was die mense se
godsdiens vas aan tradisies en rituele.
Dit het dit byna vir hulle onmoontlik gemaak
om die lewe te geniet en regtig vry te wees.

In 1 Petrus 1:18 beskryf Petrus hulle situasie:
“...Vroeër was julle, soos julle voorouers,
mense wat in ‘n geestelike tronk gesit het.
Soos mense vasgevang agter tralies,
het julle ‘n doellose en leë lewe gelei.”

God tree in met sy reddingsplan, vers 19:
“Toe het Jesus die boete kom betaal wat die
geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het.
Julle kon weer regtig begin lewe.
Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld
betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde
verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal,
en wat ‘n groot prys was dit nie!”

Ons kan nou volkome vry lewe!
Dit is nie ‘n lewe sonder teenspoed,
uitdagings en swaarkry nie.
Ons kry wel ‘n lewe van gemoedsrus met
‘n wonderlike toekomsverwagting.
Daarvoor het Jesus aan die kruis gesorg.

Wanneer ons dit besef,
kan ons verseker nie onaangeroer staan nie.
Die vryheid wat ons ontvang het, moet mos nou
in ‘n lewe van dankbaarheid oorgaan.
God het nie by Jesus opgehou nie,
maar loop die volle lewenspad tot in heerlikheid
by Hom saam met ons.
Vers 21 sê: “Julle kan op God vertrou,
omdat julle gesien het wat Hy vir Jesus gedoen het.
Hy het Jesus uit die dood opgewek,
en aan Hom eer en baie hoë status gegee.
Net God kan dit doen. Julle kan God dus vertrou.
Julle kan maar seker weet dat Hy dit alles iewers
in die toekoms ook met julle sal doen.”

Wow!
Wat ‘n kragtige belofte is dit nie vir ons nie!
God maak jou vry van die kettings van die wêreld.
So sal God alles in jou lewe word.
Rig jou hele lewe op dankbaarheid.
Gaan dien die Here met dankbaarheidsdiens!

Ernest