Elke mens wil suksesvol wees.
Suksesvol in jou werk, familielewe, sport...
Die vraag is: Wat beteken dit om ‘n suksesvolle
kind van God te wees?
Die eerste antwoord is seker om God ten volle te vertrou,
en Jesus as enigste Saligmaker te aanvaar.
Maar as gestuurde van die Here in hierdie wêreld,
gaan sukses in jou kind van God wees ook daarin lê dat mense
om jou die realiteit van jou geloof aan hulle lyf voel.
Wil jy ‘n suksesvolle kind van God wees?
Petrus sê in 1 Petrus 1:22 dat jy dan die volgende moet doen:
“Julle moet lojaal wees teenoor mekaar en mekaar help
waar julle ook al kan. Julle luister nou nie meer na verkeerde
dinge nie. Julle lewe mos nou graag soos God van julle verwag
en volgens wat vir Hom reg is. Hy verwag dat julle in liefde
lojaal teenoor mekaar sal wees, reg om mekaar te help
en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees.
Julle moenie allerhande bymotiewe hê nie,
maar moet opreg wees.”
Sukses as kind van de Here in die oë van die Here?
Dien mekaar met liefde. Wees lojaal teenoor mekaar.
Moenie toelaat dat dinge tussen jou en jou medegelowige
kom staan nie. Help mekaar met foute,
al is dit die ander een se skuld.
Ons breek maklik ons kop oor die vraag:
Wat verwag God van my?
Dan soek ons ingewikkelde antwoorde.
God se wil is eenvoudig, dat ons Hom moet liefhê
en mekaar moet liefhê. Dat ons mekaar opreg moet dien.
In Johannes 13 was Jesus sy dissipels se voete.
Hy sê ons moet ook mekaar gaan dien soos Hy kom dien het.
Wees regtig lief vir jou medemens. Dien jou medemens.
Wees lojaal aan mekaar. Help mekaar.
En dit alles net omdat jy nie anders kan nie,
as gevolg van Jesus se liefde in jou!
So sal jy die Here verteenwoordig in sy koninkryk,
in hierdie wêreld.
So is jy “suksesvol” as kind van die Here!
Ernest