Ons sal seker almal lank kan praat oor ons geloof.
Maar hoe sou jy dit in ‘n neutedop saamvat?
Die Apostoliese Geloofsbelydenis is ‘n kort
samevatting van ons geloof as Christene.
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige...”,
en dit staan dan ook bekend as die Twaalf Artikels.
Baie van ons het egter ook ‘n paar verse of teks in die
Bybel, wat as’t ware ons geloof onderskryf.
Paulus se geloof in ‘n neutedop sou kon wees:
“Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe,
is vir my wins.” – Filippense 1:21.
Vir Josua was dit: “Wat my en my familie betref,
ons sal die Here dien.” – Josua 24:15.
Of die van Tomas, wanneer hy oor die Here bely:
“My Here en my God!” – Johannes 20:28.
Habakuk se geloof in ‘n neutedop is bietjie langer,
in Habakuk 3:17-19.
“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen
druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos die van ‘n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
Wat is jou geloof in ‘n neutedop?
Jou persoonlike geloofsbelydenis,
of ‘n Bybelteks wat vir jou groot waarde het?
Dit is gevestig op God se Woord. Dit dra jou.
Dit gee jou lewe sin. Dit is jou kompas.
Dit voel vir jou of dit alles saamvat van wat jy
oor God dink, bely, weet, glo en beleef.
Oordink dit en weet ons is almal deur God
gemaak met die uitsluitlike doel:
om Hom te verheerlik!
Gaan leef nou jou geloof so uit!
Ernest