In “Alice in Wonderland” sê die koningin vir Alice:
“It takes all the running you can do to keep in the same place.
If you want to get somewhere else,
you must at least run twice as fast as that.”
Dit voel of ons almal hardloop om net ons plek te behou,
om net op een plek te bly stilstaan en nie plek te verloor nie!
‘n Fietsry-tydskrif sê dat die gemiddelde fietsryer 60%
meer krag moet gebruik om 20% vinniger te ry.
Dit voel of ons baie harder moet werk,
vir nié soveel meer resultate nie…! Dit is hoe die lewe is.
En dikwels voel ons ook so oor geloof.
As geloof baie maklik was sou ons almal eenvoudig geglo het.
As deursettingsvermoë en volharding gewild was,
dan sou almal dit doen en die kerk uit sy nate bars.
Ons moet egter weet; die vreugde is eindeloos
groot vir die wat volhard in die geloof.
Die lewe op die pad van geloof saam met die Here
het veral twee kenmerke; vreugde en teenstand!
Om in die Here Jesus te glo en vir Hom te leef,
is nie ‘n gelyk pad nie.
Maar dit is wel ‘n pad waar die Heilige Gees
permanent saam met ons loop.
Ons is nooit aan onsself oorgelaat nie.
Al leef ons in storms en gevare,
die Here is altyd saam met ons op die pad.
Jesaja 43:2-3: “As jy deur water moet gaan,
Ek is by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God...”
En Hy is die Here van vreugde!
Daarom kan ons lig reis,
met ‘n ligte hart en ‘n hart vol vreugde!
Ons kan die regte vingerafdrukke en spore agterlaat op
die plekke waar ons saam met die Here beweeg en leef.
Ons kan in die moeilikste omstandighede vasbyt en aanhou,
want die Here self spoor ons aan, dring ons met sy liefde.
Die Heilige Gees se stukrag is in die geloofseile wat ons span!
Ernest