Wie is in die middelpunt van jou lewe?
Die meeste van ons kyk dadelik hoe ons op ‘n foto lyk.
Of hoe jy in ‘n spieël lyk as jy verbystap.
Sommiges doen selfs “photoshop” op hul foto’s voordat
hulle dit op Facebook of Instagram plaas.
Daar is reeds in 2012 ‘n studie gedoen wat wys dat
Facebook gebruikers 21% van hulle tyd
op Facebook gebruik vir die instandhouding
en opdatering van hul eie profiel.
Die Britse Daily Mail het op 9 September 2010
‘n artikel geplaas wat, uit navorsing van York Universiteit
in Kanada, beweer dat die gebruik van Facebook
gelyk is aan om na jouself in ‘n spieël te staar.
Mense het behep geraak met hulleself,
en oppervlakkige verhoudings is die gevolg daarvan.
Warmte en empatie het verlore gegaan as gevolg van
mense wat behep is met Facebook,
en ook selfoon kommunikasie.
Ons kan seker ons eie menings hieroor vorm...

Die feit is: Ons is heeltemal te maklik in die sentrum
van ons eie klein wêreldtjie.
Ons groot uitdaging as gelowiges is om weg te skuif
uit die sentrum van ons lewe.
As ons bely dat ons Jesus se volgelinge is,
dan kan ons nie heeltyd op onsself fokus nie.
Dit gaan oor die Here in ons lewe.
Al ons fokus is nou op Hom.
Dit is wat dit beteken dat Hy jou Here is!
Ons gee alle beheer en belang van ons lewe oor.
Ons volg Hom eksklusief.
Ons is nie hier vir die lewe dat dit om ons draai nie!
Soos Johannes die Doper moet ons bely en leef:
Ek moet minder word en die Here meer, in my lewe!

Ernest