Hoe ons God verstaan bepaal hoe ons lewe
in verhouding met Hom.
Wanneer ons God as kwaai bestempel,
dan verstaan ons sy handelinge in ons lewe
in terme van straf, tug, of dat Hy ons wil terugkry.
Wanneer ons dink God is ‘n ver-af God, daar bo,
ver van ons af, dan is ons dikwels vol blaam teenoor
Hom in terme van dinge wat skeefloop.
Daar is inderdaad tekste in die Bybel wat voorstel dat
God streng is. En dit is ook nodig,
om ons te herinner dat God heilig is! Hy is die Here God!
Hy haat ons sondes en staan nie neutraal daaroor nie.
Soms is God op die oog af ook ver,
en kan ons dit inderdaad so beleef, soos Dawid.
In Psalm 13:2-3 sê hy: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet,
Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?
Hoe lank moet ek nog my eie planne maak,
en my dae met kommer deurbring?...”
Om jou ook in God vas te loop is om te weet
‘n worsteling wag op jou. Vra maar vir Jakob,
wat met die Here gestoei het, of Moses wat in ‘n rotsskeur
moes wegkruip toe die Here by hom verbygaan.
Die Here wil nie dat ons ligsinnig en ondeurdag met Hom
praat nie, al wil Hy hê dat ons vol vreugde moet leef!
Die Bybel se kortste samevatting van God se karakter is
net drie woorde: “God is liefde.” – 1 Johannes 4:8.
Sy wese is liefde! Dit is wie Hy is,
en dit is wat sy optrede motiveer. Nie straf en wraak nie.
En ook nie om ver van ons te wees nie.
God se hart is ‘n hart van liefde en vergifnis.
Nabyheid en gemeenskap met ons.
Die praktiese uitdrukking van God se verhouding met ons
is net een Naam lank: Christus!
God se liefde gaan nie oor ons liefde vir Hom nie,
of oor alles wat Hy doen om óns tevrede te hou nie.
Dit gaan net oor een Persoon: Christus!
Hy wys God se liefde vir ons.
Hy doen God se liefde! Hy is God se liefde!
Snap dit, en jou lewe verander onherroeplik!
1 Johannes 4:10: “Werklike liefde is dít:
nie die liefde wat ons vir God het nie,
maar die liefde wat hy aan ons bewys het deur sy Seun
te stuur as versoening vir ons sondes.”
Ernest