Die eerste tree van enige reis is dalk die belangrikste.
Daarmee begin jy immers die reis.
Die reis kan nie voltooi word sonder die eerste tree nie.
Maar die reis kan ook nie voltooi word sonder die tweede,
en derde en vierde, en al die treë wat daarop volg nie.
Tree vir tree kom die reis klaar,
en bereik jy jou doel en bestemming.
So word enige projek ook suksesvol voltooi.
En uiteindelik gaan dit ook nie net oor hoe ons die
reis begin nie, maar ook hoe ons dit klaarmaak.

God se koninkryk gebeur ook op dieselfde manier.
God se koninkryk kom ook so deur ons.
Dit breek aan deur op die pad saam met die Here
die eerste tree te gee, en dan daarmee aan te hou,
tree vir tree, in sy voetspore.
Een vir een daad van omgee, en deernis,
en liefde vir jou medemens.
Een opregte gebed, een woord van bemoediging,
een beker koue water vir ‘n dors mens,
een tree saam met iemand wat tot stilstand
gekom het...en weer saam met jou Jesus begin volg.

Hebreërs 12:1-2 sê ons moet ons oog op Jesus hou.
Hy is die Begin en Voleinder van ons geloof.
Ons moet een tree op ‘n slag in sy voetspore loop,
tree vir tree. Saam met Hom.
Gee elke keer net daardie een tree voor jou,
op die Here se pad, saam met Hom, op die regte koers.
Dit help nie om op die regte pad te wees, maar dan
stil te staan nie. Ons moet bly beweeg. Voorwaarts.

Ons storm ook nie buite beheer die donker in nie.
Die Here loop voor ons. Vir ons is dit die onbekende.
Vir Hom is dit die toekoms wat aan Hom behoort!
Hy sal vir ons voorloop op die pad,
op die hele lewensreis.
Moenie haastig voor Jesus uit probeer loop nie.
Moet ook nie probeer om verby Hom die toekoms
in te kyk nie.
Gee net tree vir tree agter Hom aan,
in sy voetspore, saam met Hom.
Volhard daarmee, tree vir tree! Volhard!

Hebreërs 12:1: “...laat ons elke las van ons afgooi,
ook die sonde wat ons so maklik verstrik,
en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê,
met volharding hardloop.”

Ernest