Dikwels verstaan ons “wag op die Here” verkeerd.
Dan sit ons in “geestelike wagkamers” en wag...
Dit is nie wat Psalm 130 en 131 bedoel met
wag op die Here nie.
Om op die Here te wag is ‘n werkwoord.
Dit beteken om iets te doen!
Dit is om jou geloof aktief oor te sit in dade.
Ons wil graag hê die Here moet groot dinge doen
in en deur ons lewe. En ons bid daarvoor!
Dit help egter nie om die Here te vra om jou te
gebruik as jy nie bereid is om jou gebede
in geloofsdade te omskep nie!
Geloof wat nie oorgaan tot dade nie, help niks.
Neem die arm weduwee in Markus 12:41-44.
Vers 44 sê: “Hulle het almal uit hulle oorvloed
iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles
ingegooi wat sy gehad het,
alles waarvan sy moes lewe.”
Sy gee haar laaste sente aan die Here se diens.
Dit is ‘n geloofsdaad, gesien in die lig van haar
omstandighede. Op daardie oomblik verander
haar geld in hemelse saad in die koninkryk van God.
In so ‘n mate dat Jesus sê: “Voorwaar Ek sê vir julle,
sy het meer gegee as al die ander.”
Groot impak deur haar laaste paar sente!
‘n Geloofsdaad!
Hierdie weduwee kon ‘n ander roete gevolg het.
Sy kon vir haarself gesê het die Here het haar vergeet.
Sy kon dink niemand gee meer vir haar om nie.
Sy kon, soos baie mense, bloot net gebid het,
en niks doen nie.
Maar sy gaan saai haar laaste paar sente,
in die Here se koninkryk!
En deur die Here se krag en genade dra dit ewige vrug.
Tot vandag toe nog, wanneer ons daarvan lees!
Jesus was so aangegryp deur haar geloofsdaad dat haar
optrede vir altyd deel geword het van die Bybel!
Moenie in ‘n “geestelike wagkamer” op die Here
sit en wag om op te tree nie. Hy wil optree,
deur jou geloof wat in dade oorgaan!
Ernest