Psalm 131:3: “Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”

Die volgende merkwaardige verhaal van ‘n wysgeer
spreek ons aan:
‘n Koning het twee seuns gehad.
Op ‘n dag het die koning vir sy werkers gesê:
“As my jongste kind kom kuier,
gee vir hom alles wat hy wil hê.
As hy geld soek, gee meer as wat hy vra.
As hy kos en klere wil hê, oorlaai hom daarmee.
Laat hom dan gaan.”
Toe sê die koning oor sy oudste seun:
“As my oudste seun kom kuier en hy vra kos,
klere of geld, moet dit nie vir hom gee nie.
Laat hy op my wag.”
“Hoekom?”, wou die werkers weet.
“Ek geniet my oudste kind se geselskap”,
antwoord die koning.
“Ek wil graag saam met hom kuier,
maar nie saam met die jongste een nie.”

Nadat die wysgeer hierdie verhaal vertel het,
sê hy vir die wat aandagtig na hom luister:
“God is soos hierdie koning.
Hy geniet die geselskap van sy geliefdes.
Maar wees gewaarsku, as Hy jou liefhet,
gaan jy waarskynlik nie elke keer daardie dinge
kry waarvoor jy Hom vra nie.
Hy wil net jou nabyheid by Hom,
en jou geselskap geniet.
Daarom laat Hy jou op Hom wag!
Aan die ander kant,
as jy alles kry wat jy in gebed van God vra,
is dit dalk omdat Hy jou wil weg hê,
omdat jy net selfgerig is.
Jy sien Hom immers net as die groot Voorsiener,
wat in alles moet voorsien wat vir jóú belangrik is.”

Hierdie verhaal laat jou dink...
oor hoekom jy regtig na die Here toe kom.
En of jy regtig op die Here wag...
Veral ook hóé jy op Hom wag...
Hoe dikwels sien jy nie vir God as die Een
wat net moet gee nie. Ons gebede vra en vra net.
Hy moet gee, verhoor, ingryp, gou antwoord, uithelp,
en wat nog alles, soos en wanneer ék dit wil hê.

God verlang regtig na jou geselskap.
Om by Hom te wees, en aktief met Hom te gesels.
By Hom te kuier. Met die grootste eerbied gesê.
En met die grootste vrymoedigheid kán jy.
Hebreërs 10:19 sê “...ons het dus nou deur die
bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom,
en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei.
Hierdie weg het Hy vir ons gebaan...”

Saam met Dawid in Psalm 131 wil Hy hê dat ek
aan sy voete moet rus vind. Doelbewus by Hom.
Ook hierdie wag op die Here is aktief.
Ek is bewustelik in sy teenwoordigheid,
en geniet Hom! Tot sy eer!
Saam met Maria in Lukas 10 kom ek tot rus,
by die voete van Jesus.
En daaroor sê Jesus vir Marta:
“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd
oor baie dinge, maar net een ding is nodig.
Maria het die beste deel gekies,
en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
Kuier die Here se hart warm!

Ernest