Ons ken die bekende uitdrukking:
“As jy in Rome is, maak soos die Romeine.”
Dit het ‘n interessante ontstaansgeskiedenis.
Dit kom volgens oorlewering uit ‘n gesprek tussen
die twee kerkvaders Ambrosius en Augustinus.
Augustinus was aan die einde van die vierde eeu
nog ‘n priester in Milaan.
Hy moes vir ‘n naweek Rome toe gaan waar die
Sabbat toe nog deur die kerk op Sondae gevier is,
terwyl dit in Milaan op Saterdae onderhou is.
Augustinus wou by Ambrosius weet wat hom
te doen staan. Dit is toe dat Ambrosius hierdie
bekende woorde aan Augustinus gesê het.

Paulus het ook in 1 Kor. 9:20 gesê vir die Jode
moet jy ‘n Jood word, en vir die Grieke ‘n Griek,
sodat sommige gered kan word!
Helaas draai ons dit maklik om in die kerk van die Here...
Dikwels probeer ons ander mense verander,
om soos ons te lyk, in plaas van soos Jesus.
Ons wil hê hulle moet soos ons dink en doen en praat.
Maar is dit nie juis ons as gelowiges wat regtig
uit ons pad moet gaan om ander mense te dien
met die evangelie van Christus nie?
Is dit nie juis ons wat grense moet oorsteek na ander
mense wat heel anders as ons dink en doen,
om hulle te bereik met die evangelie van Christus nie?
Is dit nie ons wat agteroor moet buig ter wille van
die koninkryk van God nie?
Juis sodat ander mense God se goedheid in Christus
kan ontdek nie?
Is dit nie juis ons wat baie minder moet word,
sodat mense die Here kan sien nie?

Ons loop die Here dikwels in die regte lewe mis omdat
ons Hom op ons terme wil ontmoet en verkondig.
Ons is nie bereid om ons oë oop te maak vir ander
mense se gebruike, behoeftes en begrip nie.
Ons wil nie deel word van hulle lewe om die Here dáár te
verkondig nie. Ons wil in ons bekende gemaksone bly.
So word ons werklikheidsvreemd.

Ons wil mense net op ons terme bereik.
Ons wil net op ons terme na hulle toe uitreik.
Hulle moet by ons inval soos óns is. Net ons is “reg”,
in die uitlewing van ons verhouding met die Here.
Die Here wil egter hê ons moet tussen kerkloses gaan leef,
en tussen ongereddes, vreemdelinge, alle mense,
om dáár sout en lig en suurdeeg te wees.
Die Here is in elk geval reeds daar!
Hy het dit so duidelik op aarde demonstreer toe Hy hier was!
Daarom kan ons die grense saam met Hom oorsteek!
Paulus sê in 1 Kor. 9:22: “Vir die swakkes het ek swak geword
om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword
om in elk geval sommige te red.”

Ernest