Kan jy reggehelp word?
Ons hou nie altyd daarvan nie. Om reggehelp te word.
Veral as ons hard op ons standpunt gestaan het.
Ons hou ook nie daarvan dat iemand ons reghelp
as ons iets verkeerd doen nie.
Veral nie as ons bedoel het om dit te doen nie.
Die Here kan enige iemand gebruik om jou reg te help.
Dit hoef nie eers ‘n kind van die Here te wees nie.
So het God in ‘n droom aan Nebukadneser sy wil openbaar,
en Daniël moes die droom uitlê en so God se wil hoor.
Teregwysings is dikwels ‘n boodskap van God af!

Moenie dadelik op die verdediging gaan as iemand
jou reghelp nie. Doen selfondersoek.
Vra ook na die kern waarheid in kritiek teen jou.
Wat is die waarheid wat God aan my wil oordra in teregwysing?
Spreuke sê mense wat teregwysing afwys, sal van die pad af dwaal.
En die wat daarop ag slaan sal insig kry!
Moenie liggeraak wees wanneer iemand jou teregwys nie.
Kyk wat die Heilige Gees in jou wil verander,
om die vrug van die Gees te dra.
Moenie op jou eie gevoelens en emosies fokus nie,
maar eerder op die werk wat God in jou wil doen.
Wees bereid om te verander en nader aan God te groei!

Ons eie beeld is nie die belangrike nie.
Wat belangrik is, is hoe ons God se beeld kan weerkaats!
Wees bereid om te verander en vernuwe te word,
na die beeld van God,
ook deur die teregwysings van ander mense.
Dit gaan nie daaroor of hulle meer foute as ons maak nie.
Dit gaan oor die soeke na dit wat God moontlik
deur hulle vir my wil sê.

En as iemand my beledigend wil reghelp?
Wat dan? Wat doen ek dan?
Job sê in hoofstuk 20:3:
“Ek hoor ‘n teregwysing wat my beledig,
maar ek wil verstandig daarop antwoord...”
Luister met ander ore na teregwysings.
Probeer God se boodskap aan jou daarin hoor.
Soek groei geleentheid,
eerder as om dadelik op die verdediging te gaan.

Ernest