Baie van ons word groot met godsdiens in die huis.
Ons kan oor baie dinge in godsdiens praat.
Ons praat oor tiendes, groot of klein doop,
seksuele oriëntering, oor gehoorsaamheid aan God,
en genade...” Die lys kan aanhou groei.
Ons kan dikwels met groot insig ons godsdienstige
oortuigings met mense deel. Ons kan ure daaroor praat.
Ons oortuigings, ons opinies.
Ons wil dit selfs op mekaar afdwing.
Ons kan baie oor God praat, en oor godsdiens.
Maar die belangrike vraag waarby ons wil stilstaan is:
Hoeveel praat ons mét God?
Om oor God te praat is een ding.
Om mét God te praat is iets heel anders!
Is dit omdat dit makliker is om oor Hom te praat as met Hom?
Ons wonder wat Hy dink. Ons hoor Hom nie.
Dit voel nie of Hy luister nie. Ons kan Hom nie sien nie.
Ons kan nie emosies op sy gesig sien nie.
Hoe kon Abraham na die sterre kyk en glo sy nageslag
sal so groot wees? Hoe kon Noag ‘n belaglike ding in die wêreld
se oë doen, en ‘n árk bou!? Hoe kon Israel na die Rooisee loop,
en glo God sal ‘n pad maak?
Hoe kon Jesus se dissipels uiteindelik glo Hy,
die timmerman se seun, is die Verlosser?
Die spreuk woord sê: “Sien is glo.”
Hierdie mense het nie “gesien” nie!
Hebreërs 11:1 sê: “Om te glo, is om seker te wees van die
dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge
wat ons nie sien nie.”
Abraham se nageslag is toe soos die sterre.
Daar is ‘n reënboog wanneer dit reën. Noag het geglo.
En die Israeliete is toe deur die Rooisee!
Die dissipels het toe God se koninkryk oor die wêreld versprei!
Wat is die gevolgtrekking?
Wie met God wil praat moet glo dat Hy bestaan!
Hebreërs 11:6: “Wie tot God nader,
moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek, beloon.”
Wat God deur die Bybel vir mense gedoen het soos Abraham,
Noag, en die dissipels, wil God ook vir jou doen.
Glo dat God bestaan, en dat hy jou wat Hom soek sal beloon!
Praat baie meer met God. Baie meer!
Groei om makliker met God te praat,
en ook meer onder leiding van die Heilige Gees oor Hom!
Ernest