Filippense 1:21 sê: “Om te lewe,
is vir my Christus,
en om te sterwe, is vir my wins.”
Ons sal almal sê dat Jesus genoeg is vir my lewe.
En wanneer ons dan baie mooi daaroor dink,
dan kom ons agter en betrap ons onsself,
dat ons Hom eintlik meer nodig het vir al die
dinge wat Hy vir ons moet dóén,
as wat ons Hóm nodig het!
Ons moet mooi hieroor dink,
want baie dinge wat Hy vir ons moet doen,
is mooi dinge. Dinge soos om aan ons die
ewige lewe te gee, om aan ons krag te gee,
om ons te help...
Maar ons fokus meer op wat Hy moet doen,
as dat ons net Hóm nodig het!
So moet Hy dan uiteindelik in al my behoeftes
en begeertes voorsien. Steeds goeie begeertes,
soos om hemel toe te gaan, gesond te wees,
reg te leef, en meer bruikbaar vir Hom te wees.
Die probleem ontstaan dat ek uit die oog verloor
dat ek Hóm alleen nodig het, en dat ek al hoe
sterker op mý behoeftes begin fokus.
Dat ek minder na sy heilige teenwoordigheid verlang,
en na Hóm self, as na wat Hy vir my moet doen!
So raak ons behoefte gedrewe in ons verhouding
met die Here. Ons raak godsdienstige verbruikers.
Solank Jesus alles gee wat ons in gebed vra,
al die mooi dinge, is ons gelukkig en dankbaar.
Maar wanneer dit lyk of Hy nie gee wat ek vra nie,
dan wonder ek wat nóú verkeerd is?
Behoefte gedrewe.
Ons moet hierdie waarheid besef:
Net die Here self moet vir ons genoeg wees!
Net dan sal ons geestelik groei.
Geestelike groei is om te skuif,
te skuif van alles wat God vir my moet doen,
na God wat altyd en orals vir my genoeg is!
Dit is om saam met Paulus te jubel:
Om te lewe is vir my Christus! Net dit!
Hy is my lewe. My hoop. My blydskap. My alles!
Net Hý!
Ernest