Jesus gee verseker die ewige lewe aan elkeen wat glo.
Maar hoe verstaan ons die ewige lewe?
Wat gaan in die hemel gebeur? Wat gaan ons daar doen?
Sommige mense vergelyk die hemel met hulle beste
oomblikke wat hulle ooit op aarde gehad het.
Ander dink die nuwe hemel en aarde gaan min of meer
alles wees soos ons dit nou het, net sonder al die sonde.
Wanneer jy luister na wat mense oor die hemel skryf,
sing en praat, dan wonder die meeste mense eintlik net
watter geliefdes hulle eendag daar gaan raakloop,
en hoe hulle daar saam met hulle gaan leef!
Ander wonder oor watter plek hulle in die hemel gaan kry.
En dan is daar selfs mense wat wonder of hulle
honde en katte ook daar sal wees...
Ongetwyfeld wag daar ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde
op al die Here se geliefde kinders.
Maar min mense vra ooit uit oor Christus se
teenwoordigheid in die ewigheid!
Hulle dink Jesus se taak was eintlik net om ons daar te kry.
Intussen moet Hy vir ons plek hou tot ons arriveer.
Belangrik: Dit gaan uiteindelik nie oor die “plek-hemel” nie,
maar oor die Persoon! Dit gaan alles oor God!
Die hemel is presies daar waar Jesus is. Daar waar God is!
Hyself is die Lewe! Hy gee dit nie maar net nie.
Hyself is die weg. Hy wys dit nie maar net aan nie.
Jesus is die Opstanding en die Lewe!
Hy skenk dit nie maar net aan gehoorsames nie.
Jesus is self die Brood van die lewe.
Hy is nie maar net die uitdeler van ewige brood nie.
Die hemel is nie ‘n opgedateerde weergawe van hierdie lewe,
en daarom net sonder sonde met wonderlike harmonie
ter wille van ons nie.
As dit nie vir my om Jesus alleen gaan nie,
maar oor ‘n wonderlike plek waar ék in die hiernamaals
saam met my geliefdes gaan wees,
dan is Jesus eintlik maar net ‘n Voorsiener van mý begeertes.
Die feit is: Jesus is die Ewige Lewe!
Of ek híér is, of dáár, Hy is my enigste troos en Lewe!
Lees mooi wat Hy self in Johannes 5:24 sê:
“Dit verseker Ek julle; Wie luister na wat Ek sê,
en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe.
Hy word nie veroordeel nie,
maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”
Reeds uit die dood na die Lewe oorgegaan!
Alles gaan oor God!
Hier, en daar!
Ernest